Potsdam

Hierdie artikel handel oor die Duitse stad. Vir die gelyknamige stede en dorpe, sien gerus Potsdam (dubbelsinnig).

Potsdam

Kaart Wapen
Vlag
 Land Vlag van Duitsland Duitsland
 Deelstaat Brandenburg
 Koördinate 52°24′N 13°4′O / 52.400°N 13.067°O / 52.400; 13.067
 Stigting 993 (eerste verwysing)
 Stadstatus 1345
 Oppervlakte:  
 - Totaal 188,61 vk km
 - waarvan waterliggame 11 persent
 Hoogte bo seevlak 32 m
 Bevolking:  
 - Totaal (31 Desember 2018) 178 089[1]
 - Bevolkingsdigtheid 944,2/vk km
 Tydsone UTC +1 (MET)
 - Somertyd UTC +2 (MEST)
 Klimaat  
 - Tipe Gematigde klimaat[2]
 - Gemiddelde jaarlikse temperatuur 8,7 °C
 - Gem. temp. Januarie/Julie -0,9 / 17,9 °C
 - Gemiddelde jaarlikse neerslag 592 mm
 Burgemeester Mike Schubert (SPD)
 Amptelike webwerf potsdam.de

Potsdam (Duits: [ˈpɔtsdam], ) is die administratiewe sentrum en grootste stad van die Duitse deelstaat Brandenburg, met 'n bevolking van 178 089 (soos op 31 Desember 2018). Potsdam lê digby die suidwestelike stadsgrens van die Duitse hoofstad Berlyn wat 'n eie deelstaat en enklawe in die hart van Brandenburg vorm, en maak deel uit van die Europese metropolitaanse gebied Berlyn-Brandenburg. Die middestede van Potsdam en Berlyn lê sowat 30 kilometer van mekaar af.

Die Sanssouci-kasteel, 'n gunstelingprojek van die Pruisiese koning Frederik die Grote, is in die Rokoko-boustyl uitgevoer, met wingerdterrasse aan die buitekant

Potsdam is 'n gewilde toeristebestemming en word as een van die mooiste stede in Duitsland beskou. Hier het Pruise se monarge diep spore gelaat deur hul droom van 'n Pruisiese Arkadië te verwesenlik, geïnspireer deur hul verlange na die kultuurlandskappe van Frankryk en Italië. Sewentien kastele en kasteelagtige wonings, wat ingebed lê in die bosryke meerlandskap van die Havelrivier, oorheers die stadsbeeld. Potsdam se kasteel- en tuinlandskap is in koninklike opdrag deur beroemde boumeesters soos Knobelsdorff, Schinkel en Persius en landskapsargitekte soos Lenné, Eyserbeck en prins Von Pückler-Muskau geskep.

Dié kultuurlandskap – met die kasteeltuine Sanssouci, Nuwe Tuin (Neuer Garten) en Babelsberg, insluitende die kastele Sanssouci en Nuwe Paleis; die kasteel en tuin in Sacrow met die Verlosserkerk (Heilandskirche); die kasteel Lindstedt; die Russiese kolonie Alexandrowka, die Pinksterberg (Pfingstberg) met die Belvedere; en die Keiserstasie (Kaiserbahnhof) vlakby die Wildpark is in 1990 deur Unesco as wêrelderfenisgebied gelys.[3]

'n Voorstad van Potsdam, Babelsberg, het Londen, Praag en Rome as die belangrikste sentrum van die televisie- en rolprentbedryf in Europa verbygesteek. Die filmateljee Studio Babelsberg beskik oor die grootste kapasiteit en modernste geriewe van sy soort in Duitsland en ontwikkel nou ook tot 'n gewilde ateljee vir internasionale rolprentprojekte.

  1. (de) Bevölkerung im Land Brandenburg nach amtsfreien Gemeinden, Ämtern und Gemeinden 31. Dezember 2018. Besoek op 20 Julie 2019]
  2. (de) www.klimadiagramme.de – Potsdam
  3. (en) "Palaces and Parks of Potsdam and Berlin". Unesco. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 20 Mei 2020. Besoek op 14 Julie 2017.

© MMXXIII Rich X Search. We shall prevail. All rights reserved. Rich X Search