Sargon van Akkad

Sargon van Akkad
Koning van Akkad, Kisj, Lagasj, Umma en Uruk, opperheer van Sumer, Elam, Mari en Jarmut
Sargon van Akkad op sy oorwinningstele, met sy titel links voor hom gegraveer.
Dinastie Huis van Sargon
Bewind c. 2334-2279 v.C.
Volle naam Šarru-kin ("die ware/wettige koning")
Gebore Onbekende datum
Azupiranu
Gesterf 2279 v.C.
Akkad, Mesopotamië
Opvolger Rimush
Gade van Tashlultum
Kinders Enheduanna, Rimush, Manishtushu, Ibarum, Abaish-Takal

Sargon van Akkad, ook bekend as Sargon die Grote (Akkadies: Šarru-kīnu, "die ware/wettige koning"),[1] was ’n Semitiese Akkadiese keiser wat bekend is vir sy verowering van Sumeriese stadstate in die 24ste en 23ste eeu v.C. Hy was die stigter van die dinastie van Akkad en het in die tweede laaste kwart van die 3de millennium v.C. regeer.

Volgens wigskrifbronne was hy die skinker van koning Ur-Zababa van Kisj. Hy het die koning volgens latere bronne vermoedelik vermoor en sy bewind oorgeneem voordat hy probeer het om die hele Mesopotamië te verower. Hy is aanvanklik "Sargon I" genoem, maar latere rekords het getoon daar was ook ’n Assiriese koning met die naam Sargon (na wie gewoonlik as "Sargon I" verwys word).[2]

Daar word geglo dat Sargon se ryk groot dele van Mesopotamië ingesluit het wat onder meer dele van die hedendaagse Iran, Klein-Asië en Sirië was. Sy hoofstad was die nuwe, maar tot nog toe onontdekte Akkad, wat hy volgens die Sumeriese koningslys óf laat bou óf laat restoureer het.[3] Hy word soms beskou as die eerste persoon in die bekende geskiedenis wat ’n multi-etniese, sentraal regeerde ryk geskep het, hoewel dié eer ook die Sumeriese Lugal-zage-si kan toekom. Sy dinastie het Mesopotamië sowat een en ’n half eeu lank beheer.[4]

Sargon kom as 'n legendariese figuur voor in die Nieu-Assiriese letterkunde van die 8ste tot 7de eeu v.C. Tablette met fragmente van 'n Sargon-geboortelegende is ook in die Biblioteek van Assurbanipal ontdek.[5][6][7]

  1. Chavalas 2006
  2. Bromiley, Geoffrey (31 Desember 1996). The international standard Bible encyclopedia (Revised uitg.). William B Eerdmans. ISBN 978-0-8028-3784-4.
  3. Kramer 1963: 60–61
  4. Van de Mieroop 2006: 63
  5. Westenholz, Joan Goodnick (Januarie 1984). "Review of The Sargon Legend: A Study of the Akkadian Text and the Tale of the Hero Who Was Exposed at Birth. Deur Brian Lewis". Journal of Near Eastern Studies. 43 (1): 73–79. doi:10.1086/373065. JSTOR 545065.
  6. Brian Edric Colless. "The Empire of Sargon". Besoek op 25 Mei 2013.
  7. King, L. W. (1907). Chronicles concerning early Babylonian kings. London, Luzac and co. pp. 87–96.

© MMXXIII Rich X Search. We shall prevail. All rights reserved. Rich X Search