Seeanemoon

Seeanemoon
'n Groep Seeanemone,
geskilder deur Giacomo Merculiano, 1893
Wetenskaplike klassifikasie
Koninkryk:
Filum:
Klas:
Subklas:
Orde:
Actiniaria
Suborde
Diversiteit
46 families

Seeanemone is ongewerwelde seediertjies wat tot die orde Actiniaria behoort. Die meeste seeanemone leef in tropiese koraalriwwe, terwyl sommiges aangepas het om in kouer water te leef en selfs by die pole kan oorleef. Die anemone se lyf, of poliep, is silindries met 'n spleetbek wat deur tentakels omring is. Die diere anker hulself met 'n plakvoet aan die rotse of riwwe. Die tentakels speel 'n vername rol in seeanemone se bestaan en om hulle te onderskei. Dit kan lank of kort, skerp of stomp, dun of dik wees. Party kan selfs vertak wees.

Omdat die seeanemoon geen skelet of bene het nie, gebruik hy interne waterdruk om sy vorm te behou. Hulle het ’n sagte lyf en is steelloos; die dier heg homself dus met sy plakvoet aan ’n rots vas waar hy vir die res van sy lewe staties bly. Sommige spesies kan baie stadig beweeg om 'n meer geskikte habitat te vind terwyl ander kan swem deur hulle lyf te buig.

Die tentakels kom in groepe van ses om die spleetbek voor. Party tentakels bevat 'n gifstof en veroorsaak ongerief indien mense daaraan raak. Seeanemone gebruik die tentakels om prooi te vang soos plankton, klein vissies en garnale. Die voedsel word dan na die bek gebring waar dit verorber word. Die seeanemoon verteer die voedsel in die sentrale maagholte, waar ensieme dit afbreek. Dit word dan deur die lyf se wande geabsorbeer. Die seeanemoon het nie 'n anus nie en onverteerde voedsel word weer opgebring en deur die bek uitgespoeg.

Die geslagte is verskillende diere en bevrugte eiers ontwikkel in 'n larwe wat homself aan die rots of rif heg en daarna in 'n poliep.

Sommige spesies het simbiotiese verhoudings met anemoonvisse; die visse word beskerm deur die anemoon se tentakels en het 'n slymlaag wat hulle weer teen die anemoon se giftige tentakels beskerm.


© MMXXIII Rich X Search. We shall prevail. All rights reserved. Rich X Search