Seekat

Seekat
Die gewone seekat, Octopus vulgaris.
Wetenskaplike klassifikasie
Koninkryk:
Filum:
Klas:
Subklas:
Superorde:
Orde:
Octopoda

Leach, 1818
Subordes

Pohlsepia (incertae sedis)
Proteroctopus (incertae sedis)
Palaeoctopus (incertae sedis)
Cirrina
Incirrina

Sinonieme
  • Octopoida
    Leach, 1817

Seekatte is koppotiges in die orde Octopoda, wat baie diverse streke van die aarde se oseane bewoon, veral koraalriwwe.

'n Seekat het agt beweegbare arms, wat agter hom aansleep wanneer hy swem. Sy ordenaam "Octopoda" is afgelei van die Griekse Ὀκτάπους, wat "agt-pote" beteken.

Die meeste seekatte het nie 'n interne of eksterne geraamte nie, wat hulle in staat stel om deur baie klein openinge te beweeg. 'n Seekat het 'n harde snawel en sy mond word deur sy arms omring. Hulle is hoogs intelligente diere, moontlik selfs die intelligentste van alle ongewerwelde diere. Dit ontsnap roofdiere deur te skuil, vinnig weg te swem, ink uit te spuit of sy kleur te verander om homself te kamoefleer. Hulle is tweesydig simmetries met twee oë en vier paar arms. Die arms is oortrek met suiers.

Video van 'n seekat

Die seekat vreet hoofsaaklik krappe, garnale, krewe, weekdiere en visse. Hy kan ook 'n kort rukkie buite die water oorleef, mits sy kieue vogtig bly. Die meeste seekatte is nie giftig nie, hoewel sommige baie giftig is.

Seekatte bewoon verskeie streke van die see, insluitend koraalriwwe, pelagiese waters en die seebodem; sommige woon in die tussengetysone en ander op afgronddieptes. Die meeste spesies groei vinnig, word vroeg volwasse en hul lewe is van korte duur. By die meeste spesies gebruik die mannetjie 'n spesiaal aangepaste arm om 'n bondel sperm direk in die wyfie se mantelholte te plaas, waarna hy vinnig verouder en vrek, terwyl die wyfie bevrugte eiers in 'n kuil plaas en dit versorg totdat dit uitbroei, waarna sy ook vinnig sterf. Strategieë om hulself teen roofdiere te verdedig sluit in die uitdryf van ink, kamoeflering en verandering van tekstuur, die gebruik van voorwerpe (soos bv. 'n stuk seewier of skulpe) om hulself te vermom of die voorwerp as beskerming teen aanvalle te gebruik of hul agtervolgers om die bos te lei, asook die vermoë om vinnig deur die water te beweeg en weg te kruip. Alle seekatte is giftig, maar sover bekend is slegs die Blouring-seekat dodelik vir mense.

Seekatte verskyn in mitologie as seemonsters, soos byvoorbeeld die Kraken van Noorweë en die Akkorokamui van die Ainu en moontlik ook die Gorgone van antieke Griekeland. ’n Geveg met ’n seekat kom voor in Victor Hugo se boek, Les Travailleurs de la Mer, wat as inspirasie gedien het vir Ian Fleming se Octopussy. Seekatte verskyn in die Japannese erotiese kuns shunga. Seekatte word geëet en as lekkerny beskou in verskeie dele van die wêreld, veral die Middellandse- en die Asiatiese see.


© MMXXIII Rich X Search. We shall prevail. All rights reserved. Rich X Search