Skone

Velde met bloeiende raapsaad is 'n tipiese landskapstoneel in Skone. Vrugbare leemgrond het van die gebied die belangrikste graanstreek in Skandinawië gemaak.
Vlag van Skone
Wapen van Skone

Skone (Sweeds en Deens Skåne, Latyn Scania) is 'n historiese provinsie in die suide van Swede wat tot in die 17de eeu deel uitgemaak het van die Koninkryk Denemarke. Dit kom grootliks ooreen met die huidige provinsie Skåne län en gebied van die provinsiale munisipaliteit (wat ook 'n vroeëre selfstandige munisipaliteit in die historiese provinsie Halland insluit).

Die belangrikste stedelike sentra is Malmö (die provinsiale hoofstad), Helsingborg, Kristianstad, Landskrona, Lund, Trelleborg en Ystad. Skone maak saam met die Deense eilande Seeland, Bornholm, Lolland, Falster en Møn deel uit van die transnasionale Öresundstreek.

Vanweë die nabyheid aan Denemarke is in die plaaslike Sweeds nog steeds 'n Deense aksent in die naam. Sowel Denemarke en Swede het eeue lank aanspraak op Skone, Halland en Blekinge gemaak, en eers in 1658 is hierdie gebiede by Swede ingelyf.

Danksy sy vrugbare grond, gematigde klimaat en ryk visterreine speel Skone steeds 'n beduidende rol as die belangrikste landboustreek van Swede. Die plaaslike landskap word deur saggies golwende heuwellande en groen weivelde in die kusgebiede gekenmerk, waarby Österlen in die suidooste 'n gewilde trekpleister vir toeriste en kunstenaars geword het. Die binneland word deur die heuwelreekse Söderåsen, Romeleåsen en Linderödsåsen en klein mere oorheers, waarvan Ringsjö en Krankesjö as voëlparadyse bekend staan.


© MMXXIII Rich X Search. We shall prevail. All rights reserved. Rich X Search