Soera

Al-Fatiha ("Die Aanhef"), die eerste soera van die Koran wat in sy geheel geopenbaar is.

’n Soera (Arabies: سورة sūrah; meervoud: سور, soewar) is die hoofstukke waaruit die Koran bestaan. Daar is 114 soewar (of soeras), wat elk uit ’n aantal ajat (verse; enkelvoud: aja) bestaan. Die soeras is nie almal ewe lank nie – die kortste een, Al-Kawthar ("Oorvloed"), het net drie ajat, terwyl die langste een, Al-Ba'karah ("Die Koei"), 286 het.[1]

Van die 114 soeras is 87 in Mekka geopenbaar en 27 in Medina. Die soeras wat geopenbaar is ná Mohammed se vlug na Medina word Medinees genoem en dié daarvoor Mekkaans. Die Mekkaanse hoofstukke handel meestal oor geloof en die laaste oordeel, en die Medinese hoofstukke oor beloning en straf in die hiernamaals, asook wetgewende voorskrifte en polemiek in verband met Jode en Christene met wie Mohammed in Medina in aanraking gekom het. Buiten At-Tawbah ("Die Boetedoening"), begin al die hoofstukke met "In die naam van Allah, die Barmhartige, die Genadige". Dit is bekend as die basmala en dui die grens tussen hoofstukke aan.

Die soeras is nie in ’n chronologiese of tematiese volgorde nie en is min of meer van lank tot kort georden (behalwe die eerste hoofstuk, wat net sewe ajat het). Soeras word tydens gebede voorgedra. Hoofstuk 1 word herhaal in elke eenheid van gebed, en sommige eenhede van gebed sluit die voordra van enige hele hoofstuk of deel daarvan in.

  1. Muhammad Mustafa Al-A'zami (2003), The History of The Qur'anic Text: From Revelation to Compilation: A Comparative Study with the Old and New Testaments, p.70. UK Islamic Academy. ISBN 978-1872531656.

© MMXXIII Rich X Search. We shall prevail. All rights reserved. Rich X Search