Sotsji

Sotsji
Сочи

Kaart Wapen
Vlag
 Land Vlag van Rusland Rusland
 Federale distrik Suid-Rusland
 Ekonomiese streek Noord-Kaukasus
 Federale subjek Krasnodar-krai
 Koördinate 43°35′N 39°43′O / 43.583°N 39.717°O / 43.583; 39.717
 Stigting 1838 (Aleksandrija)
 Stadstatus 1917
 Oppervlak:  
 - Totaal 176,77 vk km
 Hoogte bo seevlak 0–700 m
 Bevolking:  
 - Totaal (2018) 424 281
 - Bevolkingsdigtheid 1 900/vk km
 Tydsone UTC +3 (MSK)
 Burgemeester Aleksei Kopaigorodski
 Amptelike Webwerf sochiadm.ru

Sotsji (Russies: Со́чи, [ˈsotɕɪ], ) is 'n Russiese vakansie- en hersteloord in Krasnodar-krai net noord van die Russiese Federasie se suidelike grens met 'n bevolking van 424 281 in 2018. Die groter stad strek oor 'n lengte van 145 km langs die kus van die Swartsee en lê aan die voet van die Kaukasusbergreeks se sneeubedekte bergpieke.

Groot Sotsji, 'n agglomerasie met 'n bevolking van 400 000 (insluitende omliggende nedersettings) is danksy die subtropiese klimaat, uitgestrekte bosgebiede, die groot getal villa's, sanatoria en mineraalbaddens reeds sedert die laat 19de eeu die gewildste bad- en hersteloord in Rusland. Die stad en sy omgewing, wat as die Russiese Riviera bekend staan, lok jaarliks miljoene toeriste.

Sotsji is in Julie 2007 deur die Internasionale Olimpiese Komitee as gasheerstad vir die XXII Olimpiese Winterspele 2014 en die XI Paralimpiese Winterspele 2014 aangewys. In 2017 het wedstryde van die agtste FIFA Sokker-Konfederasiebeker en in 2018 wedstryde van die 21ste FIFA Sokker-Wêreldbekertoernooi in die plaaslike Fisjt Olimpiese Stadion plaasgevind.


© MMXXIII Rich X Search. We shall prevail. All rights reserved. Rich X Search