Springbokke

Hierdie artikel handel oor die nasionale sportspan van Suid-Afrika. Vir die artikel oor die dier, sien springbok, en vir die dorp, sien Springbok, Noord-Kaap.
Suid-Afrika
Unie Suid-Afrikaanse Rugbyunie (SARU)
Bynaam(e) Springbokke, Springboks of amaBokoboko
Embleem Springbok
Stadion Ellispark-stadion
Kings Park-stadion
Loftus Versfeld
Nelson Mandelabaaistadion
Nuwelandstadion
Vrystaatstadion
President Mark Alexander
Afrigter(s) Vlag van Suid-Afrika Rassie Erasmus (sedert 2024)
Kaptein(s) Siya Kolisi
Spankleure


Alt. kleure

Statistiek
Meeste toetse Victor Matfield (127)[1]
Meeste toetspunte Percy Montgomery (893)[2]
Meeste drieë Bryan Habana (67)[3]
Eerste internasionale wedstryd
Suid-Afrika 0–4 Britse en Ierse Leeus
(Kaapstad, Suid-Afrika; 30 Julie 1891)
Grootste oorwinning
Vlag van Suid-Afrika Suid-Afrika 134–3 Uruguay Vlag van Uruguay
(Oos-Londen, Suid-Afrika; 11 Junie 2005)
Grootste nederlaag
Vlag van Nieu-Seeland Nieu-Seeland 57–0 Suid-Afrika Vlag van Suid-Afrika
(Auckland, Nieu-Seeland; 16 September 2017)
Wêreldbeker
Verskynings 8/10 (Eerste in 1995)
Beste uitslag Kampioen in 1995, 2007, 2019 en 2023
Unie webwerf
www.sarugby.co.za

Die Springbokke (Engels: Springboks; Xhosa en Zoeloe: amaBokoboko; ook korter Bokke of Boks genoem) is die nasionale rugbyspan wat Suid-Afrika in internasionale wedstryde (toetswedstryde) verteenwoordig. Die Springbokke is na die springbok, die nasionale dier van Suid-Afrika, genoem. Rugby is een van Suid-Afrika se nasionale sportsoorte en die Springbokke is ’n gedugte krag in internasionale rugby met ’n wenrekord teen byna al die ander lande, behalwe teen die Nieu-Seelandse All Blacks.

Die Springbokke se belangrikste internasionale verskyning is tydens die vierjaarlikse rugbywêreldbekertoernooi. Alhoewel die Springbokke as gevolg van die internasionale boikot teen apartheid nie aan die eerste twee rugbywêreldbekertoernooie in 1987 en 1991 deelgeneem het nie, het dié land in 1995 as gasheer van die toernooi opgetree en tydens hul debuut die beker gewen. Die Springbokke het die All Blacks in die eindstryd met 15–12 geklop, ’n gebeurtenis wat tot vandag toe as een van die grootste prestasies in die Suid-Afrikaanse sportgeskiedenis beskou word. Suid-Afrika het twaalf jaar later die Webb Ellis-beker tydens die Rugbywêreldbeker 2007 in Frankryk en weereens twaalf jaar later tydens die Rugbywêreldbeker 2019 in Japan ingepalm. Tydens die Rugbywêreldbeker 2023 in Frankryk het die Springbokke ná die All Blacks die tweede span geword wat die beker suksesvol kon verdedig en die eerstes geword om vier wêreldbekertoernooie te wen. Die Springbokke het sodoende Nieu-Seeland se vorige rekord van drie titels verbeter, maar met twee wêreldbekerverskynings minder. Daarmee is die Springbokke nou die wêreld se suksesvolste span in wêreldbekerrugby, aangesien hulle sedert 1995 vier uit agt rugbywêreldbekertoernooie gewen het. Die All Blacks het daarenteen sedert 1987 drie uit tien rugbywêreldbekertoernooie gewen.

Die Springbokke speel jaarliks teen die All Blacks van Nieu-Seeland, die Wallabies van Australië en die Poemas van Argentinië in die Rugbykampioenskap, voorheen die Drienasiesreeks genoem, waartydens hulle ook om die Mandela Uitdaagplaat teen Australië en die Vryheidsbeker teen Nieu-Seeland meeding. Die Springbokke het die voormalige Drienasiesreeks reeds drie keer in die toernooi se 14 jaar bestaan gewen (in 1998, 2004 en 2009), en later die uitgebreide Rugbykampioenskapreeks (in 2019).

In 1891 het die Springbokke in hul eerste internasionale wedstryd te staan gekom, toe die Britse Leeus, ’n span van gekeurde spelers uit die vier Tuisnasies, tydens hul toer Suid-Afrika besoek het. Tot sy professionalisering was rugby ’n amateursport, wat op internasionale vlak deur soms maandelange, oorsese toere gekenmerk was, waartydens die nasionale spanne nie net teen ander nasionale spanne te staan gekom het nie, maar ook teen plaaslike spanne en rugbyklubs. Sedert die begin van rugby in Suid-Afrika word die Springbokke in groen-en-goud as een van die gedugste nasionale spanne wêreldwyd beskou en die beheerliggaam, die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (SARU), word deur Wêreldrugby saam met tien ander as ’n vlak-een-span geag. Die Suid-Afrikaanse nasionale rugbyspan is tans (Oktober 2023) eerste op Wêreldrugby se wêreldranglys[4] en in 2004, 2007, 2009 en 2019 is die Springbokke deur Wêreldrugby as die “span van die jaar” aangewys. 13 voormalige Springbokspelers is in Wêreldrugby se Heldesaal opgeneem.

  1. (en) "Most matches". ESPNscrum. Besoek op 1 November 2023.
  2. (en) "Most points". ESPNscrum. Besoek op 1 November 2023.
  3. (en) "Most tries". ESPNscrum. Besoek op 1 November 2023.
  4. (en) "World Rugby Rankings". Wêreldrugby. Besoek op 1 November 2023.

© MMXXIII Rich X Search. We shall prevail. All rights reserved. Rich X Search