Steentydperk

Gereedskap soos hierdie, wat uit steen of met behulp van steen vervaardig is, is tydens die Steentydperk gebruik.

Die Steentydperk is die deel van die geskiedenis van die wêreld wat die eerste wydverspreide gebruik van tegnologie in menslike evolusie aantoon, asook die verspreiding van die mens van die grasvelde van Oos-Afrika na die res van die wêreld. Die tydperk eindig met die ontwikkeling van landbou, die temming van sommige diere en die smelting van kopererts om bruikbare metaal te vervaardig. Daar word na dié tydperk verwys as voorgeskiedenis, aangesien die mensdom nog nie kon skryf nie en daar dus geen opgetekende rekords uit die tydperk dateer nie.

Die Steentydperk strek oor 'n tydperk van ongeveer 2,5 miljoen jaar gelede (2,3 miljoen jaar v.C.) tot ongeveer 3500 v.C. Die datums is egter slegs 'n riglyn, aangesien die oorgang tot die bronstydperk (en in sommige kulture direk na die ystertydperk) van streek tot streek verskil. Die Steentydperk bestaan uit die Paleolitikum (ook genoem die Ou of die Vroeë Steentydperk) en die Neolitikum (ook genoem die Nuwe Steentydperk). In sommige gebiede was daar ook 'n tussenfase wat bekend staan as die Mesolitikum of die Epipaleolitikum.


© MMXXIII Rich X Search. We shall prevail. All rights reserved. Rich X Search