Tegnologiese singulariteit

'n Langtermyn tydlyn van tegnologie.

Die tegnologiese singulariteit (ook eenvoudig die singulariteit) is 'n hipotese waarvolgens die ontdekking van kunsmatige hiperintelligensie 'n onmiddellike eksponensiële tegnologiese ontwikkeling tot gevolg sal hê, wat ongekende en fundamentele veranderings in die menslike beskawing teweeg sal bring. Volgens hierdie hipotese sal 'n opgradeerbare intelligente agent (soos 'n rekenaar wat deur sagteware-gebaseerde algemene kunsmatige intelligensie in werking gestel is) 'n wegholreaksie ontketen van 'n kringloop selfverbeterings waarvolgens elke nuwe en meer intelligente generasie vinniger as die vorige sal werk. Dit lei dan tot 'n intelligensie-ontploffing en skep 'n magtige superintelligensie wat kwalitatief by verre alle menslike intelligensie sal oortref. John von Neumann was in die 1950s die eerste om die term "singulariteit" te gebruik in die konteks van tegnologie. Hy verwys na tegnologiese vordering wat versnelde verandering veroorsaak:

“Een van ons gesprekke het gewentel om die immer versnellende vordering van tegnologie en die veranderinge in menslike bestaanswyse, wat naamlik die indruk skep dat 'n sekere onafwendbare singulariteit in die geskiedenis van die menseras (of: spesies) genader word, waarna mensesake, soos ons dit tans ken, nie kan voortbestaan nie.”

Die tegnologiese singulariteit is ook 'n transhumanistiese begrip. Baie transhumaniste ervaar dit vanuit Moore se wet (wat 'n verdubbeling in prosesseringskapasiteit voorspel binne 'n gegewe periode) wat ook van toepassing gemaak word op die tempo van wetenskaplike en tegnologiese ontwikkeling.

Daaropvolgende skrywers het ook die sieninge verder uitgebou. I.J. Good se "intelligensie-ontploffing", voorspel dat 'n toekomstige superintelligensie 'n singulariteit sal laat ontstaan. Amerikaanse wiskundige en wetenskapfiksie-skrywer Vernor Vinge stel in sy 1993 essay, The Coming Technological Singularity, dat 'n singulariteit die einde van die menslike era kan beteken, aangesien die nuwe superintelligensie sal voortgaan om ditself op te gradeer en tegnologie ook teen 'n onverstaanbare vinnige tempo sal laat vooruitgaan.

Gedurende die 2012 Singularity Summit, het Stuart Armstrong in 'n studie van kunsmatige algemene intelligensie voorspellings van kenners onderneem en die gemiddelde voorspelling vir die intree van die singulariteit as 2040 geïdentifiseer.


© MMXXIII Rich X Search. We shall prevail. All rights reserved. Rich X Search