Vennootskap

'n Vennootskap is 'n ooreenkoms tussen minstens twee en hoogstens twintig persone (beperking statutêr opgelê) om tot almal se voordeel hul kapitaal, arbeid en bevoegdheid in 'n onderneming saam te voeg en die wins of verlies in 'n ooreengekome verhouding tussen hulle te verdeel.

'n Vennootskap bestaan uit minstens twee en hoogstens twintig vennote. 'n Vennootskap kan mondeling of skriftelik tussen twee of meer persone aangegaan word. 'n Vennootskap is nie 'n regspersoon nie en kan dus nie dagvaar of gedagvaar word nie. Die regspersoon van 'n vennootskap setel in sy lede. Die vennootskap is gesamentlik en afsonderlik aanspreeklik vir die skuld van hul vennootskap. Wanneer 'n vennoot te sterwe kom of uittree, word die vennootskap ontbind en moet die ander vennote 'n nuwe vennootskap stig. 'n Vennoot is 'n agent van die vennootskap en bind as sodanig die venootskap deur sy dade, mits hy verantwoordelik optree. As 'n vennoot egter die perke van sy bevoegdheid oorskry, is hy persoonlik vir verliese verantwoordelik.

Behalwe in die geval van 'n beperkte vennootskap kan enige vennootskap deur 'n mondelinge ooreenkoms tot stand kom. Met die oog op moontlike geskille is dit egter wenslik dat 'n geskrewe kontrak, die vennootskapskontak, deur 'n prokureur opgestel word. In hierdie ooreenkoms word die voorwaardes waarop die vennootskap gestig is, uiteengesit. Dit is wenslik dat elke vennoot die vennootskapsooreenkoms teken om hom op dié wyse tot die voorwaardes daarvan te verbind. In die afwesigheid van 'n skriftelike vennootskapsooreenkoms geld die beginsels van die gemene reg vir die beslegtiging van geskille.

Dieselfde beginsels wat vir 'n eenmansaak met betrekking tot inkomstebelasting geld, is op vennootskappe van toepassing. Die vennootskap per se betaal dus nie inkomstebelasting nie, maar wel die vennote in hul private hoedanigheid.


© MMXXIII Rich X Search. We shall prevail. All rights reserved. Rich X Search