Verenigde Party

Verenigde Party
VP
Leier Barry Hertzog
Jan Christian Smuts
Koos Strauss
De Villiers Graaff
Gestig 1934
Ontbind 1977
Voorafgegaan deur Nasionale Party
Suid-Afrikaanse Party
Saamgesmelt met Demokratiese Party (1973)
Opgevolg deur Nuwe Republiek Party (1977–1988)
Ideologie Konserwatisme, Liberalisme, Pro-Commonwealth, Kleurlinge se regte
Genl. Jan Smuts en sy kabinet saam met koning George VI tydens die koninklike besoek van 1947. Links van die koning sit die adjunkpremier, Jannie Hofmeyr. Dr. Colin Steyn staan heel links en Smuts se opvolger, adv. J.G.N. Strauss, tweede van regs.
Genls. J.B.M. Hertzog en Jan Smuts omstreeks 1939 buite die parlement in Kaapstad.

Die Verenigde Suid-Afrikaanse Nasionale Party was van 1934 tot 1948 die regerende party van die Unie van Suid-Afrika en van 1948 tot en met sy ontbinding in 1977 die Amptelike Opposisie in die Volksraad.

Die party se uiteindelike ondergang, wat reeds in 1939 begin het toe genl. J.B.M. Hertzog as leier en eerste minister bedank het nadat sy mosie om neutraal in die Tweede Wêreldoorlog te bly in die Unie-Volksraad met 80 teen 67 stemme verslaan is, was daaraan te wyte dat die party deur die jare “alles vir almal” wou wees en telkens, wanneer dit regtig saak gemaak het, nie duidelik standpunt oor kernvraagstukke kon inneem nie. Veral ná 1970 het die Engelse Establishment, uit wie se geledere die oorweldigende deel van sy steun toenemend gekom het, vertroue in die party begin verloor as die werktuig waarmee dié groep betekenisvol aan die Suid-Afrikaanse politiek kon deelneem. Ander faktore wat tot sy ondergang gelei het, was die grondwetlike stryd teen die NP se pogings om bruin kiesers van die algemene kieserslys te haal, wat die VP ná ’n lang en bittere stryd verloor het. Ook dat die strydvraag oor republiekwording, iets wat die party teengestaan het, ná 1961 verdwyn het, die NP veral sedert 1970 meer en meer die VP se beleid oorgeneem het en die party se organisasie nie altyd na wense was nie. Vanweë sy ontstaan as ’n party wat ’n tuiste aan wyd uiteenlopende elemente moes bied, het ’n gebrek aan samehorigheid deur die jare ook daartoe gelei dat faksies telkens na links en na regs weggebreek het. Uiteindelik het die party ook die steun van die magtige Engelse pers verloor toe hulle in die sewentigerjare hul steun aan die Progressiewe Party en sy opvolgers toegesê het omdat dié party die enigste werklike alternatief vir apartheid gebied het.

Verskeie partye het mettertyd na links en regs van die party afgestig, wat telkens die party verswak het, totdat dit uiteindelik in 1977 ontbind is. Dit was hoofsaaklik weens die party se onvermoë om met ’n alternatief vir apartheid vorendag te kom.[1]

  1. Soos Stanley Uys dit in die Britse koerant The Guardian gestel het in sir De Villiers Graaff se doodsberig: “Under Graaff's early leadership many UP parliamentary speeches – especially by the 1953 crop of MPs – were prophetic in their dissection of why apartheid would not work. What was not clear was what the UP would put in its place. This hesitant approach to the race question enabled Afrikaner nationalists and then the white liberals to bury the UP.”

© MMXXIII Rich X Search. We shall prevail. All rights reserved. Rich X Search