Vetplant

Johann Bauhin

'n Vetplant is 'n plant wat in staat daartoe is om vog in sy blare, stingels, stamme of wortels te stoor.

Vetplante of sukkulente kom dikwels in droë gebiede soos halfwoestyne voor, maar daar is tog 'n verskil met die regte xerofiete en eremofiete wat suiwer woestynplante is. Suid-Afrika het die grootste verskeidenheid van hulle, veral in die Sukkulente Karoo. Hierdie ekostreek is na hulle genoem. Die vermoë om water te stoor word sukkulensie genoem en dit kan op verskillende maniere gebeur. Van die plante stoor dit net in dik vlesige blare. Ander plante met glad geen blare stoor dit in stingels of die stam, ensomeer. Mens kan van stamsukkulente, blaarsukkulente ensomeer praat, maar dikwels word die water in meer as een orgaan gestoor.

Die begrip "Succulentae" is eerste deur die Switserse plantkundige Johann Bauhin ingevoer in sy Historiae plantarum universalis wat in 1619, ná sy dood, verskyn het. Hy het genera soos Portulaca, Aloe en Crassula in 'n 'takson' Succulentae geplaas. Hierdie plante is nogtans geensins verwant nie, en vandag word sy takson nie meer erken nie.[1] Sukkulensie tree in der waarheid in 'n groot getal plantfamilies op. Plantfamilies wat sukkulensie vertoon is byvoorbeeld die vygies, die nabome en die kaktusse.

Conophytum minutum 'n vygie

Die terme "vetplant" of "sukkulent" word dikwels gebruik, hoewel 'n goeie definisie eintlik ontbreek. Dit is dalk beter oor "sukkulensie" te praat as 'n eienskap wat 'n plant in seker mate kan besit. Een van die probleme is dat sukkulente in verskillende biome en habitatte kan voorkom.

Hulle kan in droë streke soos die Karoo aangetref word, wat min maar wel reëlmatig reënkry, maar dikwels nie in regte woestyne waar reënval baie onreëlmatig is nie. Droër plekke in vogtiger streke of plekke met hoë soutgehaltes of selfs op bome in 'n reënwoud kan nogtans ook vetplante oplewer. Hulle kan dus byvoorbeeld xerofiete, halofiete of epifiete wees en is nie kenmerkend aan een bepaalde bioom nie.

Daar is nogtans 'n taamlik algemene misvatting dat "xerofiet" en "sukkulent" sinonieme is. Vetplante is nie soos xerofiete aan droogte self aangepas nie, maar aan tydelike droogte.[2]

Von Willert probeer om 'n definisie te gee wat pleks van die verwantskap of die bioom op die fisiologie en anatomie van die plant gerig is:

'n Sukkulent is 'n plant wat tenminste een sukkulente weefsel bevat
'n Sukkulente weefsel is 'n lewende weefsel was -naas ander take- dien om altans tydelik bruikbare water te stoor wat die plant tydelik onafhanklik van 'n eksterne waterbron maak, wanneer die grondwatertoestande dusdanig verslegter dat die wortels nie langer die benodigde water aan die grond kan onttrek nie

In hierdie definisie word 'bruikbare' water onderskei van die totale waterinhoud van 'n plant omdat nie alle water beskikbaar vir die plant se ander weefsels is nie. Die definisie onderskei nogtans nie of die water herhaaldelik onttrek en weer gestoor kan word nie. Bladwisselende plante se blare sterf wanneer die water onttrek word.[2]

Daar is metodes om te meet hoe sukkulent 'n plant is, soos die hidrouliese kapasitansie of die sukkulensie-indeks.

  1. Advances in Botanical Research, Volume 55 Jean-Claude Kader, Michel Delseny Academic Press, 2010, ISBN 0-12-380869-3, 9780123808691
  2. 2,0 2,1 Life Strategies of Succulents in Deserts: With Special Reference to the Namib Desert Dieter J. von Willert CUP Archive, 1992,ISBN 0521244684, ISBN 978-0-521-24468-8

© MMXXIII Rich X Search. We shall prevail. All rights reserved. Rich X Search