Walliese nasionale rugbyspan

Wallis
Unie Walliese Rugbyunie (WRU)
Bynaam(e) Rooi Drake
Embleem Prins van Wallis se vere
Stadion Millennium-stadion, Cardiff
Kapasiteit 73 931
Afrigter(s) Vlag van Nieu-Seeland Warren Gatland (sedert 2022)
Kaptein(s) Dafydd Jenkins
Spankleure


Alt. kleure

Statistiek
Meeste toetse Alun Wyn Jones (158)[1]
Meeste toetspunte Neil Jenkins (1 049)[2]
Meeste drieë Shane Williams (58)[3]
Eerste internasionale wedstryd
Vlag van Engeland Engeland 8–0 Wallis Vlag van Wallis
(Blackheath, Engeland; 19 Februarie 1881)
Grootste oorwinning
Vlag van Wallis Wallis 98–0 Japan Vlag van Japan
(Cardiff, Wallis; 26 November 2004)
Grootste nederlaag
Vlag van Suid-Afrika Suid-Afrika 96–13 Wallis Vlag van Wallis
(Pretoria, Suid-Afrika; 27 Junie 1998)
Wêreldbeker
Verskynings 10/10 (Eerste in 1987)
Beste uitslag Derde plek in 1987
Unie webwerf
www.wru.co.uk

Die Walliese nasionale rugbyspan (Engels: Wales national rugby union team; Wallies: Tîm rygbi'r undeb cenedlaethol Cymru) is die nasionale rugbyspan wat Wallis tydens internasionale wedstryde (toetswedstryde) verteenwoordig. Rugby word in Wallis deur die Walliese Rugbyunie (Welsh Rugby Union, WRU) geadministreer. Wallis neem jaarliks aan die Sesnasies-toernooi deel, saam met Engeland, Frankryk, Ierland, Italië en Skotland. Wallis is ook een van die lande wat deel uitmaak van die Britse en Ierse Leeus – spelers wat vir Wallis mag speel mag dus ook gekies word vir die Leeus.

Wallis se belangrikste internasionale verskyning is tydens die vierjaarlikse rugbywêreldbekertoernooi wat sedert 1987 beslis word. Sedert die eerste Rugbywêreldbekertoernooi in 1987 het Wallis aan elke toernooi deelgeneem en sy beste uitslag tydens die Rugbywêreldbeker 1987 behaal, toe die span die klein finale om die derde plek teen die Wallabies gewen het. Wallis het tydens die Rugbywêreldbeker 1999 as nominale gasheer opgetree, maar ook tydens die rugbywêreldbekertoernooie 1991, 2007 en 2015 is wedstryde in Wallis aangebied.

Wallis het sy eerste internasionale rugbywedstryd in 1881 teen Engeland gespeel. Sedert die voorganger van die Vyf- en Sesnasies-toernooi, die Tuisnasies, in 1883 ’n aanvang geneem het, het die span reeds 27 toernooie gewen, en nog twaalf ander kere die titel gedeel. Sedert Italië in 2000 by die kompetisie aangesluit het om die Sesnasies te vorm, het Wallis vyf titels verower, die laaste in 2019. Die beheerliggaam Wêreldrugby beskou Wallis as ’n vlak-een rugbyland. Veral Walliese spelers van die 1970’s word as van die beste in die geskiedenis van die spel beskou. Alhoewel verskeie swak vertonings in die laat 1980’s en 1990’s die span se reputasie baie skade toegedien het, het ’n herstel in die 2000’s en Sesnasies-titels saam met Grand Slams in 2005, 2008, 2012 en 2019 daartoe bygedra om die situasie om te keer. As gevolg van die sukses het Wallis die eerste Europese span ooit geword om ’n Grand Slam met meer weg- as tuiswedstryde te verower.

Walliese spelers dra tradisioneel skarlakenrooi truie, wit broeke en rooi sokkies. Die span se tuisstadion is Millennium in Cardiff waar hulle vir die eerste keer in 1999 gespeel het. 18 voormalige Walliese rugbyspelers is in Wêreldrugby se Heldesaal opgeneem. Wallis is tans (Maart 2024) tiende op Wêreldrugby se wêreldranglys gelys.[4] Wallis is een van min lande waar rugby die hoofsport is. Slegs die Cookeilande, Fidji, Nieu-Seeland, Samoa en Tonga kan soortgelyke bewerings maak.[5]

  1. (en) "Most matches". ESPNscrum. Besoek op 18 Maart 2024.
  2. (en) "Most points". ESPNscrum. Besoek op 18 Maart 2024.
  3. (en) "Most tries". ESPNscrum. Besoek op 18 Maart 2024.
  4. (en) "World Rankings". Wêreldrugby. Besoek op 18 Maart 2024.
  5. (en) "Rugby History in Fiji". Teivovo. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 14 November 2007. Besoek op 14 November 2007.

© MMXXIII Rich X Search. We shall prevail. All rights reserved. Rich X Search