Willem Adriaan van der Stel

Willem Adriaan van der Stel

2de Goewerneur van die Nederlandse Kaapkolonie
Ampstermyn
2 November 1699 – 3 Junie 1707
Voorafgegaan deur Simon van der Stel
Opgevolg deur Johannes Cornelis d’Ableing (waarnemend)

Persoonlike besonderhede
Gebore 24 Augustus 1664
Amsterdam, Nederland
Sterf 11 November 1733 (op 69)
Lisse, Nederland
Eggenoot/-note Maria de Haes
Religie Nederduits Gereformeerde Kerkfamilie
Willem Adriaan van der Stel en sy pa Simon

Willem Adriaan van der Stel (ook gespel Wilhem Adriaen van der Stel[1]) was 'n ongewilde goewerneur van die Kaap die Goeie Hoop.

Hy is in Amsterdam gebore as die oudste seun van Simon van der Stel in 1664 en sy vader in die ouderdom van 15 na die Kaap die Goeie Hoop vergesel. Sy eerste pos hier was as kassier van die Verenigde Oos-Indiese Kompanjie. Hy het sy vader as goewerneur opgevolg in 1699.

Sy voorliefde vir boerdery is vrye teuels gegee en hy het 'n lieflike landgoed tot stand gebring by Vergelegen, naby die huidige Somerset-Wes. Die omvang van sy bedrywighede en sy persoonlikheid het aanleiding gegee tot klagtes, wat op die spits gedryf is in 'n klagskrif wat deur 63 burgers aan die Here XVII in Nederland gestuur is in 1705.

Van der Stel het die situasie nie goed hanteer nie en Adam Tas, tesame met talle ander leiers gevange gehou. Die goewerneur is na Nederland ontbied vir 'n ondersoek. Ondanks sy lang geskrewe verdediging is die uitspraak teen hom gelewer. Daar is beslag gelê op Vergelegen en dit is verkoop, en hy is ontslaan uit die diens van die Kompanjie in 1707. Hy het op landgoed Uitermeer, in Lisse (provinsie Zuid-Holland) gesterf in 1733. Mens kan sy en sy vrou se graf besigtig in die Hervormde Kerk in Lisse.

Die Van der Stels was stellig die vernaamste goewerneurs wat die Kaap tot in daardie stadium gehad het. Meer as 30 jaar lank ná hulle het hul opvolgers nie so 'n belangrike rol in die geskiedenis van die Kaap gespeel nie.

  1. Muller, C.F.J. (1968). Vyfhonderd Jaar Suid-Afrikaanse Geskiedenis. Academica.

© MMXXIII Rich X Search. We shall prevail. All rights reserved. Rich X Search