Willem Postma

Ds. Willem Postma
Ds. Willem Postma
Ds. Willem Postma, ook bekend onder sy skrywersnaam, dr. O'kulis

Naam Willem Postma
Geboorte 15 Maart 1874
Burgersdorp, Kaapkolonie
Sterfte 13 Desember 1920
Reddersburg, Oranje-Vrystaat
Kerkverband Gereformeerd
Gemeente(s) Bethulie, Bloemfontein, Reddersburg
Jare aktief 1897–1920
Kweekskool Teologiese Skool Burgersdorp

Ds. Willem Postma (Burgersdorp, 15 Maart 1874Reddersburg, 13 Desember 1920) was 'n predikant in die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika en, onder die skuilnaam Dr. O'Kulis, 'n Afrikaanse baanbrekerskrywer.

By sy dood het prof. J.D. du Toit (Totius) hom as 'n “heldeverskyning” en nie maar net 'n merkwaardige figuur nie beskrywe: “Hy het beswyk terwyl hy nog wou werk en ideale in sy siel geskitter het – maar dan beswyk met sy bors teen die stroom en met moed in sy siel. As sodanig sal sy persoonlikheid almal wat hom geken het, bly imponeer. Só leef, só sterf 'n man.” Sy boesemvriend, ds. J.D. Kestell, het onder meer gewys op Postma se ywer vir Christelik-nasionale onderwys en hom bestempel as “een zeldzaam verschijnsel in onze tijd van wikken en wegen”, 'n gawe van God aan die Gereformeerde Kerk maar ook aan Suid-Afrika.[1] Hy het sy kollega (hulle was van 1912 tot 1915, toe ds. Postma na Reddersburg vertrek, leraars van Bloemfontein se NG en Gereformeerde gemeente) beskryf as 'n "onverbeterlike optimis" in sy lewensbeskouing wat betref godsdienstige en maatskaplike sake. P.J. Nienaber, van wie in 1950 die enigste biografie van ds. Postma verskyn het, skryf daarin: "Dr. O'kulis was 'n indrukwekkende persoonlikheid. Wat dadelik die aandag getrek het, was sy fors gestalte, maar fynbesnede gelaat, die welgevormde neus met die dun neusvleuels en die lewendige oë. Sy gelaat was ongelukkig baie geskend deur pokke, en van dié siekte het hy 'n steeds toenemende doofheid oorgehou."[2]

  1. (af) Hoofstuk 8: Kort tussenspel vir Christelike hoër onderwys. URL besoek op 10 Julie 2016.
  2. (af) Nienaber, P.J. 1950. Dr. O'kulis met sy eselskakebeen of Die lewe en werk van ds. Willem Postma (1874–1920). Johannesburg: Voortrekkerpers.

© MMXXIII Rich X Search. We shall prevail. All rights reserved. Rich X Search