Woordeboek van die Afrikaanse Taal

Die Woordeboek van die Afrikaanse Taal (WAT) is die grootste en enigste omvattende verklarende Afrikaanse woordeboek. Dit weerspieël Afrikaans in sy wydste omvang en sluit benewens die standaardvariëteit van Afrikaans ook ander variëteite soos Kaaps en Namakwalands in. Ook streektaal, geselstaal en uitdrukkings vind ’n tuiste in die WAT. In teenstelling met die omvattende verklarende WAT is die HAT (Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal) 'n bondig woordeboek in slegs 'n enkele volume.

Op 28 Maart 2003 het die Elektroniese WAT die eerste keer verskyn. Dit is as ’n CD en ’n aanlynweergawe (ook op ’n selfoon) beskikbaar en is die ekwivalent van 9 400 gedrukte bladsye. Tans is dit die enigste verklarende Afrikaanse woordeboek wat op ’n selfoon beskikbaar is. Meer as 210 000 verklaarde trefwoorde is reeds opgeneem en die inligting is gebaseer op werklike taalmateriaal in ’n databank van miljoene optekeninge uit geskrewe en gesproke Afrikaans.

In 1925 het die Suid-Afrikaanse parlement besluit om Nederlands as amptelike taal deur Afrikaans te vervang. Daar is toe aanbeveel dat “'n volledige en gesaghebbende woordeboek (in Afrikaans) opgestel moet word”. In 1926 is 'n begin gemaak met die “volledige en gesaghebbende woordeboek”. Prof. J.J. Smith, wat aan die Universiteit van Stellenbosch verbonde was, is toe aangestel as redakteur van die Woordeboek van die Afrikaanse taal (WAT). Deel I het op 7 Mei 1951 verskyn en die 15de deel (SKOOL-SRI) van die beplande 20 dele in 2019.

Benewens die Woordeboek van die Afrikaanse Taal publiseer die Buro van die WAT ook die Etimologiewoordeboek van Afrikaans, Basic Afrikaans, en Sinonieme en verwante woordeBasic Afrikaans en Sinonieme en verwante woorde word in samewerking met Pharos uitgegee.

Die WAT bied sedert 1995 formele opleidingskursusse vir woordeboekmakers aan. Aanvanklik is veral woordeboekmakers vir die leksikografiese eenhede vir die ander tien amptelike tale opgelei, maar tans woon leksikograwe van kommersiële uitgewers ook die kursusse by. Kursusgangers kom ook van so ver as Angola, Gaboen, Malawi, Namibië, Tanzanië en Zimbabwe.

Na die drastiese afskaling van die staatsubsidie vanaf 2004, verseker ’n netwerk van donateurs dat die WAT steeds ’n produktiewe en dinamiese  maatskappy is. Inisiatiewe soos Borg ’n Woord help verseker dat jaarliks meer as R4 miljoen geïn word ten einde die begroting te laat klop.

Na raming sal die WAT teen 2029 voltooi wees (wanneer die woordeboek 102 jaar oud word). Daarna sal die Aanlyn WAT op 'n kleiner skaal voortgaan; ook kleiner nuwe saamgestelde woordeboeke dien as moontlikheid. Vir die implementering van hierdie tienjaarplan is die begroting in 2019 beraam op 'n bykomende R32 miljoen oor tien jaar.[1]

  1. Peens, B. 2019. Die hoe, waar en wanneer van die WAT. Kaapse bibliotekaris. Mei/Junie uitgawe. 63 (3): 22-25

© MMXXIII Rich X Search. We shall prevail. All rights reserved. Rich X Search