Brussel

Brussel • Bruxelles

Kaart Wapen
Vlag
 Land Vlag van België België
 Gewes (deelstaat) Brussel-Hoofstad
 Koördinate 50°51′N 4°21′O / 50.850°N 4.350°O / 50.850; 4.350
 Stigting 979
 Oppervlakte:  
 - Totaal 32,61 vk km
 Hoogte bo seevlak 15–100 m bo seespieël
 Bevolking:  
 - Stad Brussel (1 Januarie 2017) 174 272[1]
 - Bevolkingsdigtheid 5 344,1/vk km
 - Brusselse Hoofstedelike Gewes 1 183 545
 Tydsone UTC+1 (MET)
 - Somertyd UTC+2 (MEST)
 Burgemeester (bourgmestre) Philippe Close (PS)
 Eerste Minister (Gewes) Rudi Vervoort (PS)
 Amptelike Webwerf brussels.irisnet.be

Brussel (Nederlands en Afrikaans: [ˈbrʏsəl] , Frans: Bruxelles [bʁysɛl] , Duits: Brüssel, Engels: Brussels) is die hoofstad en politieke, ekonomiese en kulturele sentrum van België met 'n oppervlakte van 32,61 vierkante kilometer en 'n bevolking van 168 230 (soos op 1 Januarie 2014) in die historiese kernstad wat as Stad Brussel (Ville de Bruxelles) bestuur word.

Saam met 18 ander nedersettings in sy omgewing vorm Brussel 'n metropolitaanse gebied met meer as 1,1 miljoen oorwegend Franssprekende inwoners wat van hierdie histories Nederlandssprekende stad tans een van die grootste Franssprekende agglomerasies buite Frankryk asook die mees noordelike stad van die Romaanse taal- en kultuurgebied in Europa maak. Vanweë sy rol as Belgiese hoofstad is Brussel nogtans amptelik tweetalig, waarby sommige openbare instellings ook Duitse benamings het. In meerdere opsigte word die kernstad en die munisipaliteite van die omliggende agglomerasie as 'n eenheid geadministreer.

Die Europa-gebou (Bâtiment Europa), setel van die Europese Raad en die Raad van die Europese Unie

Die stad vervul sowel nasionale funksies as administratiewe hoofstad van die Gewes Brussel-Hoofstad (Brusselse Hoofstedelike Gewes of Région de Bruxelles-Capitale) en die Franse en Vlaamse Gemeenskappe van België, asook internasionale funksies as die administratiewe hoofstad van die Europese Unie, as die setel van 120 internasionale organisasies en 159 ambassades met meer as 2 500 diplomate, wat van Brussel die tweede belangrikste stad vir diplomatieke betrekkinge na Washington, D.C. maak. In 2009 was Brussel die wêreld se tweede belangrikste kongresstad ná Singapoer.[2]

Brussel huisves ook die hoofkwartiere van die Noord-Atlantiese Verdragsorganisasie (NAVO), die Sekretariaat-Generaal van die Benelux-Unie van België, Nederland en Luxemburg en sowat 1 400 nie-regeringsorganisasies (NRO's). Die stad word deur twee moderne lughawens bedien, Brussel-Nationaal in die Vlaamse voorstad Zaventem en Bruxelles-Sud ("Brussel-Suid") in Gosselies naby Charleroi.

Brussel beskik oor 'n markplein wat onder die mooistes ter wêreld gereken word (die Grand-Place of Groot Markplein van Brussel), tientalle musea en voorbeelde van historiese boustyle. Terselfdertyd is dit 'n stad wat steeds vernuwing ondergaan en daar is nou moderne stadswyke wat deur administratiewe en sakegeboue oorheers word.

Uitgestrekte parke en bosgebiede in die stad self en in die omgewing is rusplekke vir die besige Brusselaars. Besienswaardighede buitekant Brussel sluit die Forêt de Soignes ("Zoniënwoud") en die Koninklike Museum vir Sentraal-Afrika in Tervuren ('n oostelike Vlaamse voorstad), asook die dorpie Waterloo (in die provinsie Waals-Brabant) in, waar met die historiese slag van die jaar 1815 die tydperk van Napoleon Bonaparte tot 'n einde gekom het.

  1. SPF Intérieur: Chiffres de la population par province et par commune, à la date du 1er janvier 2017. Besoek op 5 Augustus 2017
  2. "Business tourism: Brussels is Europe's number 1 city for congresses". Geargiveer vanaf die oorspronklike op 15 Maart 2012. Besoek op 13 November 2011.

© MMXXIII Rich X Search. We shall prevail. All rights reserved. Rich X Search