Moeson

Aankomende moesonwolke naby Nagercoil, Indië.

Die moeson (afgelei van die Arabiese woord mawsim vir "seisoen") is die periodieke wind in tropiese gebiede wat ’n halfjaar lank uit ’n bepaalde rigting waai en dan feitlik 180° grade van rigting verander. Die windrigting dui die soort moeson aan, byvoorbeeld die suidwes- of die noordoosmoeson. Deur die verandering van windrigting word daar ook ’n ander lugsoort aangevoer, wat die weer in ’n groot mate beïnvloed. Daarom word ook van ’n droë of nat moeson gepraat.

Die bekendste moeson is dié van Indië en omstreke. Tot begin Junie is die noorde van Indië droog, maar in Junie, Julie en Augustus val daar net soveel reën as in ’n volle jaar in Wes-Europa. Daarna bly dit weer droog tot in Junie, wanneer die volgende moeson aanbreek.

Wanneer ʼn groot landmassa gedurende die somer verhit word, word ʼn laagdrukstelsel of sikloon gevorm; die warm lug styg op en dan is daar as 't ware ʼn tekort aan lug sodat die lugdruk laag is. In die winter, wanneer die landmassa afkoel, ontstaan 'n hoogdrukstelsel of antisikloon, want koue lug daal en die “oormaat" lug veroorsaak 'n hoë lugdruk.

Hierdie drukstelsels word termiese drukstelsels genoem, d.w.s. dit word deur temperatuur veroorsaak. In die winter word 'n groot hoogdrukstelsel dus oor Siberië en Mongolië op die groot, koue Asiatiese vasteland gevorm. In die somer kry ons weer 'n laagdrukstelsel oor die warm vasteland. In ʼn hoogdrukstelsel daal die lug van bo uit die atmosfeer en vloei op die grond na alle kante weg (d.w.s. die wind waai). In 'n laagdrukstelsel waai die wind van die kante na die middel, waar die warm lug opstyg.


© MMXXIII Rich X Search. We shall prevail. All rights reserved. Rich X Search