Afkorting

'n Afkorting, in skriftelike taalgebruik, is 'n verkorte skryfwyse vir 'n woord, woordgroep, naam of ander 'n aanduiding. Die woord afkorting is 'n versamelbegrip vir verskeie kategorieë; in alle gevalle is die ooreenkoms egter dat een of meer letters in die skryfwyse weggelaat word.

Volgens van Huyssteen (in Carstens) is die proses van afkorting 'n proses waardeur 'n nuwe woord gevorm word op die basis van die beginletters van 'n woord of woordgroep. Daar word onderskei tussen egte afkortings en akronieme. Byvoorbeeld; prok. (prokureur), dr. (dokter) en a.g.v. (as gevolg van) is egte afkortings. Daarenteen kry ons akronieme. Woorde soos VSA (Verenigde State van Amerika) en PanSAT (Pan-Suid-Afrikaanse Taalraad) is akronieme.

Egte afkortings word deur twee kenmerkende eienskappe van akronieme onderskei.

  • Egte afkortings word met punte geskryf.
  • Egte afkortings word nooit uitgespreek nie. Die oorspronklike vorm (die woorde of woordgroep) bly fonologies dieselfde as die oorspronklike. Dus; a.g.v. word uitgespreek as gevolg van en nie a punt g punt v punt nie. Die afgekorte vorm kom slegs in die geskrewe weergawe voor.

Die Afrikaanse Woordelys en Spelreëls, die AWS, het in hoofstuk 3 volledige reëls oor die gebruiksnorme van afkortings. Enkele riglyne van die AWS word hier herhaal:

  • Slegs algemeen erkende afkortings hoort gebruik te word. Interne of "huishoudelike" afkortings wat eie aan 'n organisasie of entiteit is, hoort slegs intern gebruik te word. Hierdie "huishoudelike" afkortings is nie vir algemene, openbare kommunikasie gepas nie. Die volgende is voorbeeld van afkortings wat nie vir algemene gebruik is nie: id. vir indien, naaml. vir naamlik, h.d. vir hierdie, ens.
  • Sommige afkortings word slegs as opskrifte in kolomme of deel van lyste gebruik. Byvoorbeeld: bl. (bladsy), dt. (debiet), kt. (krediet). Dus, die volgende sou nie aanvaarbaar wees in 'n geskrewe sin nie: Die saldo is 'n dt. van R 1500. Of, Dit staan op die eerste bl. van die boek.
  • Sommige afkortings word normaalweg slegs in woordgroepe met eiename gebruik: dr. (dokter of doktor)Smit, mev. (mevrou) Marais. Die volgende sin is dus nie aanvaarbaar nie: "Hoe gaan dit met mev.?"
  • 'n Sin word nie met 'n afkorting begin nie, byvoorbeeld: D.w.s daardie syfers is foutief is nie aanvaarbaar nie. 'n Uitsondering op hierdie reël is wanneer die afkorting met 'n eienaam gekoppel word of deel is van 'n samestelling met 'n ander woord. Byvoorbeeld: Dr. Smit het gebel. Of, B.v.p.-beslissings is altyd lastig.
  • 'n Opeenvolging van afkortings in 'n sin is swak styl en word nie aanbeveel nie. Daar is t.o.v. lg. par. geen beswaar nie.

© MMXXIII Rich X Search. We shall prevail. All rights reserved. Rich X Search