Antichris

Die wit ruiter met die pyl en boog uit Openbaring 6:2 (wat valse vrede versinnebeeld) word deur sommige as die antichris beskou.
Die antichris en die duiwel, soos geskilder deur Luca Signorelli in ongeveer 1501.

Die antichris (Grieks: ἀντί=in plaas van, nie teen nie; χριστός=Christus) is volgens die Christelike leer die uiteindelike manifestasie van kwaad in 'n menslike wese. Die antichris is die vyand van Christus wat die bose magte verteenwoordig en kort voor die einde van die wêreld sy opwagting sal maak.[1] Die woord kom vyf keer in die Bybel in 1 Johannes en 2 Johannes voor, een keer in meervoudsvorm en vier keer in die enkelvoud.

Die woord kom egter nie in die Openbaring van Johannes, die laaste boek van die Nuwe Testament voor nie, maar volgens sommige Christelike strominge is dit dieselfde persoon wat daarin as "die dier" beskryf word. 'n Meer wetenskaplike verklaring is dat 'die dier' na keiser Nero verwys. Keiser Nero was bekend vir sy wreedheid en het onder andere Christene vervolg. Die getal '666' dui waarskynlik ook op keiser Nero.

Godsdienstiges het oor die eeue bespiegel oor wie die antichris is. Verskeie historiese persone is al as die antichris uitgekryt. Voorbeelde is die Romeinse keiser Nero, die Pous van Rome (volgens sommige Protestante), die kerkhervormer Maarten Luther (volgens sommige Katolieke), Napoleon Bonaparte en Adolf Hitler. Dienooreenkomstig bespiegel gelowiges (soos die Herstelde Katolieke)[2] ook dat die Islam die antichris is omdat die Koran (Hoofstuk 19 – Maryam, vers 35) ontken spesifiek dat Jesus Christus die seun van God is.[3] Die leringe rondom die Koran leer ook dat die profeet Issa, die seun van Maryam/Maria 'n sterflike man was wat op die "Dag van Spyt" sal opstaan en sal oordeel oor die lewendes en dooies. Volgens hierdie leringe is hy van die kruis weggeraap voordat hy aan die kruis kon sterf. Verse 36-37 verwys na die "dwaalleer" van "hulle" wat glo dat Jesus die seun van God is. Voor Issa kom sal die Mahdi (al-Mahdī) verskyn wat glo aan die Einde van Tyd die wêreld van boosheid en onreg sal bevry, sekere Christene sien die Mahdi as die antichris.[4]

  1. HAT Taal-en-feitegids, Pearson, Desember 2013, ISBN 978-1-77578-243-8
  2. Gardiner, Anne Barbeau (1991). "Islam as Antichrist in the Writings of Abraham Woodhead, Spokesman for Restoration Catholics". jstor.org. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 1 Februarie 2024. Besoek op 1 Februarie 2024.
  3. Kreuzzüge des Mittelalters und der Neuzeit: Realhistorie – Geschichtskultur; Mazhar Al Zobhy; bl112
  4. Richardson, Joel (2009). "The Islamic Antichrist: The Shocking Truth about the Real Nature of the Beast". books.google.co.za. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 1 Februarie 2024. Besoek op 1 Februarie 2024.

© MMXXIII Rich X Search. We shall prevail. All rights reserved. Rich X Search