Apollo-beheer-en-diensmodule

Beheer-en-diensmodule sweef in 'n wentelbaan om die Maan

Die beheer-en-diensmodule (BDM) was een van twee belangrike komponente van die Amerikaanse Apollo-ruimtetuie wat gebruik is vir die Apollo-program om ruimtemanne op die Maan te land tussen 1969 en 1972. Die BDM het as 'n moederskip fungeer, 'n bemanning van drie ruimtemanne en die tweede Apollo ruimtetuig - die Apollo-maanmodule - gedra, dit alles in 'n maanwentelbaan geplaas en die ruimtemanne veilig Aarde toe teruggebring. Die BDM het uit twee gedeeltes bestaan: die koniese beheermodule voor waarin die bemanning geleef het, toerusting vir die binnedringing van die atmosfeer en die neerplons in die oseaan. Die tweede gedeelte was die silindriese diensmodule waarin die aandrywing, elektriese krag en ander verbruikbare produkte, soos benodig vir 'n sending, gestoor was. 'n Naelstringverbinding het die krag en verbruikbare produkte tussen die twee modules vervoer. Net voordat die atmosfeer binnegedring is, is die naelstringverbinding verbreek, die diensmodule is afgeskei en toegelaat om in die atmosfeer uit te brand.

Sedert November 1961 is die BDM deur North American Aviation ontwikkel en gebou vir NASA. Dit was aanvanklik ontwikkel om op die Maan te land bo-op 'n landingsvuurpyl met al drie ruimtemanne aan boord; dit het bekend gestaan as 'n direkte- opstygsending. Dié ontwerp sou nie 'n aparte maanmodule benodig nie, dus was daar geen voorsiening gemaak vir dokfasiliteite met ander ruimtetuie nie. Hierdie feit en ander verlangde ontwerpvereistes het gelei tot die besluit om twee weergawes van die BDM te bou. Die Blok-I ontwerp was gebruik vir onbemande sendings en bemande sendings van een omwenteling om die Aarde soos vir Apollo 1. Die meer gevorderde Blok-II konsep was ontwerp vir gebruik saam met die maanmodule. Die Apollo 1 vlug was gekanselleer na die bemanning (nog op die grond) in 'n brand in die module omgekom het en die beheermodule vernietig is tydens 'n lanseerrepetisie. Verbeteringe is aan die Blok-II-module aangebring wat later vir al die bemande ruimtevaarte gebruik is.

Daar is negentien BDM's gelanseer. Van die negentien het nege mense na die Maan geneem tussen 1968 en 1972. Twee ander is gebruik in bemande toetsvlugte in lae wentelbane om die Aarde. Na die voltooiing van die Apollo-program is drie gebruik om gedurende 1973-1974 ruimtemanne na die Skylab-ruimtestasie te vervoer. In 1975 het die laaste BDM met die Sowjet Sojoes 19 ruimtetuig gedok as deel van die internasionale Apollo-Sojoes-toetsprojek.


© MMXXIII Rich X Search. We shall prevail. All rights reserved. Rich X Search