Bybel

'n Bybel
Die Bybel van Christian III van Denemarke, die eerste Deense vertaling. Gedruk in Kopenhagen, 1550.
Die Afrikaanse Bybel (hier die 1933/1953-vertaling) kan ook op Java-georiënteerde selfone afgelaai word. m.bibles.co.za

Die Bybel is die heilige boek van Christendom, Judaïsme, Rastafarianisme en Samaritaïsme. Die Joodse Bybel of Tanag het 39 dele en vertel die verhaal van God se verhouding met die Joodse mense in antieke tye. Dié 39 dele is ook deel van die Christelike Bybel en word die Ou Testament genoem. Die Christelike Bybel het nog 27 dele, wat die Nuwe Testament genoem word. Daarin word die verhaal van Jesus vertel.[1]

Die woord 'Bybel' stam van die Griekse woord βιβλια biblia (boeke) af, wat 'n meervoud is van βιβλιον biblion, wat oorspronklik papirus beteken en later gebruik is as 'n aanduiding van papier, geskrif of boek(rol). Die Bybel bevat drie verskillende versamelings boeke:

  1. Die Ou Testament, ook die Hebreeuse Bybel genoem. Dit is oor die eeue heen geskryf en het oorspronklik vir die grootste deel uit Hebreeuse teks met enkele Aramese paragrawe bestaan. Die Tanag, d.w.s. wysheidsboeke en profete, word anders georden.
  2. Die Apokriewe boeke, boeke buite die kanon van Nicea.
  3. Die Nuwe Testament, geskryf tydens die tweede helfte van die eerste eeu na Christus, in moderne Grieks (koinè-Grieks).

In breë trekke gaan die Bybel oor hoe God as skepper met die mens in tyd en ruimte omgegaan het, die plek van die mens in verhouding tot die skepping, die skepper en die heelal, en ingrepe van ewigheid (domein van God) in die tyd (domein van die mens).

Met geraamde verkope van meer as 5 miljard kopieë word die Bybel algemeen as die topverkoper-boek van alle tye beskou.[2][3] Na raming word 100 miljoen Bybels jaarliks verkoop.[4][5] Dit is uniek in baie opsigte, waarvan skrywers en vertaling net 'n paar is. Dit het ook 'n groot invloed op letterkunde en die geskiedenis, veral in die Weste, uitgeoefen.[6]

  1. HAT Taal-en-feitegids, Pearson, Desember 2013, ISBN 978-1-77578-243-8
  2. "Best selling book of non-fiction" (in Engels). Guinness World Records. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 8 Mei 2020. Besoek op 9 Desember 2015.
  3. Ryken, Leland. "How We Got the Best-Selling Book of All Time" (in Engels). The Wall Street Journal. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 8 Mei 2020. Besoek op 9 Desember 2015.
  4. "The battle of the books". The Economist (in Engels). 22 Desember 2007. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 20 Januarie 2013.
  5. Ash, Russell (2001). Top 10 of Everything 2002. Dorling Kindersley. ISBN 0-7894-8043-3.
  6. Die finansiële onderbou van die Bybelgenootskap van Suid-Afrika, Universiteit van Pretoria, besoek op 27 Mei 20017

© MMXXIII Rich X Search. We shall prevail. All rights reserved. Rich X Search