Dalarna

Dalarna

Kaart van Dalarnas län Wapen
Oudste seël (1435)
 Land Swede
 Landsdeel Svealand
 Län

Dalarnas län
Gävleborgs län
Jämtlands län
Värmlands län


 Bisdom Västerås
 Koördinate 60°52′N 14°44′O / 60.867°N 14.733°O / 60.867; 14.733
 Oppervlakte:  
 - Totaal 29 086 vk km
 Hoogste punt (met 1 204 m) Storvätteshågna
 Grootste meer Siljan (280 vk km)
 Bevolking:  
 - Totaal (31 Desember 2019) 284 524
 - Bevolkingsdigtheid 9,8/vk km
 Tydsone UTC +1 (MET)
 Klimaat  
 - Tipe
 - Gemiddelde jaarlikse temperatuur
 - Gem. temp. Januarie/Julie
 - Gemiddelde jaarlikse neerslae
 Webwerf www.dalarna.se

Dalarna (letterlik "Die valleie") is 'n historiese landskap in die noordweste van Svealand (Sentraal-Swede) wat grootliks met die huidige administratiewe distrik Dalarnas län (vroeër Kopparbergs län) ooreenkom, behalwe vir klein afwykings (die parogie Hamra maak tans byvoorbeeld deel uit van Gävleborgs län), en tot by die grens met Noorweë strek. Die plaaslike mynbou- en houtbedryf vorm saam met metaalverwerking en toerisme, wat reeds teen die middel van die 19de eeu ontwikkel het, sy ekonomiese basis, en Dalarna se tipiese rooi (of soms ook blou) geverfde Dalarna-houtperdjies (Sweeds: Dalahästar) het 'n simbool vir die landskap geword wat orals in Swede te koop is.

ʼn Dalahäst

Die topografie van Dalarna word oorheers deur die Siljanmeer, wat in sy sentrum lê, en die riviere Västerdalälven en Österdalälven wat in Djurås in die munisipaliteit Gagnef saamvloei om die rivier Dalälven te vorm. Die hoogste punt van Dalarna is die Storvätteshågna wat 1 204 meter bo seevlak rys. Die laagste punt is in die suidooste waar die Dalälven teen 'n hoogte van 55 meter bo seevlak Dalarna se grens oorsteek. Baie van Dalarna se paaie loop vanuit die suidooste langs die riviere en deur sy vrugbare valleie in noordwestelike rigting. Die huidige idilliese Siljanmeerlandskap is sowat 365 miljoen jaar gelede gevorm nadat 'n natuurramp die gebied getref het: Die sigbare krater in die gebied getuig van 'n grootskaalse meteorietinslag, en die Siljan-, Orsa- en Skattungenmeer maak almal deel uit van hierdie krater.

Groot hoeveelhede minerale is as gevolg van die kosmiese ramp in Dalarna ontdek, en yster, koper en silwer het van die arm landelike streek vanaf die 17de eeu 'n beduidende mynbougebied gemaak wat die basis vir Swede se welvaart en Noord-Europese grootmoondheidstatus gevorm het. Die geskiedenis van Falun se kopermyne strek selfs meer as 1 000 jaar terug.

Terwyl die suidelike streke 'n lang nywerheidsgeskiedenis het, is die noordelike dele bergagtig en behels uitgestrekte natuurgebiede soos Orsa finnmark en die rotsmassiewe van die noordweste. Tydens die winter is Dalarna 'n gewilde bestemming vir wintersportentoesiaste.

Vandag staan die Siljanmeergebied as die sentrum van die tradisionele Sweedse volkskultuur bekend. In die klein dorpe langs die meeroewer word tipiese Midsomerfeeste vanaf 23 en 24 Junie tot in Julie gevier, en die jaarlikse musiekfeeste rondom die Siljanmeer en in Falun is die beduidendste van hul soort in Swede. Strykorkeste van tot by tagtig musikante vorm net soos Dalarnaperdjies uit die dorp Nusnäs deel van Dalarna se kultuur.


© MMXXIII Rich X Search. We shall prevail. All rights reserved. Rich X Search