Distopie

Distopie is 'n (denkbeeldige) samelewing met uiters negatiewe eienskappe waarin die deursnee mens beslis nie sou wou lewe nie.[1][2] 'n Distopie is dus die teenoorgestelde van 'n utopie, wat juis 'n besonder positiewe samelewing voorstel.

Distopië is 'n gewilde onderwerp in werke van fiksie. Die outeur bied gewoonlik daarmee 'n beeld van die toekoms soos deur hom/haar voorgestel en/of om die mensdom te probeer waarsku teen die moontlike gevolge van sekere optredes en beleidrigtings. Sommige wetenskaplikes, soos Gregory Claeys en Lyman Tower Sargent, onderskei tussen tipiese sinonieme van distopië. Claeys en Sargent definieer byvoorbeeld 'n literêre distopie as samelewings wat veronderstel is om aansienlik erger te wees as die samelewing waarin die skrywer skryf, terwyl “anti-utopië” funksioneer as kritiek op pogings om verskillende konsepte van 'n utopie te implementeer.[3]

Enkele populêre distopiese onderwerpe sluit in:

  • 'n samelewing waarin geen vryheid meer bestaan nie en wat bestuur word deur 'n totalitêre regering;
  • 'n samelewing wat gekontroleer word deur robotte of rekenaars;
  • die totale oorheersing en skending van persoonlike privaatheid deur owerhede en instellings;
  • 'n samelewing waarin alles en elkeen dieselfde is en waar uitinge van kultuur en emosies verbode is;
  • 'n samelewing waar mense slegs dien as voedsel of as orgaanskenkers; en
  • 'n wêreld waar die mensdom feitelik uitgesterf het na 'n kernoorlog, siekte of ander ramp.[2]
  1. "Definition of "dystopia"". Merriam-Webster. Merriam-Webster, Inc. 2012.
  2. 2,0 2,1 "Definition of "dystopia"". Oxford Dictionaries. Oxford University Press. 2012. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 18 Junie 2016. Besoek op 24 November 2019.
  3. Claeys, Gregory; Sargent, Lyman Tower (November 1999). The Utopia Reader. ISBN 9780814715710.

© MMXXIII Rich X Search. We shall prevail. All rights reserved. Rich X Search