Dresden

Dresden

Kaart Wapen voor 1990
Huidige wapen
 Land Vlag van Duitsland Duitsland
 Deelstaat Sakse
 Koördinate 51°03′N 13°44′O / 51.050°N 13.733°O / 51.050; 13.733
 Stigting 1206 (eerste verwysing)
 Oppervlakte:  
 - Totaal 328,31 vk km
 Hoogte bo seevlak 113 m
 Bevolking:  
 - Totaal (31 Desember 2013) 530 754[1]
 - Bevolkingsdigtheid 1616,6 vk/km
 - Metropolitaanse gebied 760 000
 Tydsone UTC +01:00
 Burgemeester Dirk Hilbert (FDP)

Dresden (Sorbies: Drježdźany; afgelei van die Oud-Sorbiese Drežďany, "bewoner van 'n moerasland") is die administratiewe hoofstad van die Duitse deelstaat Vrystaat Sakse. Dit is in die suide van Oos-Duitsland in die Dresdense Elbe-riviervallei aan die oorgang van die bo- tot die middelloop van die Elbe en in die oorgangsgebied tussen die Noord-Duitse Laagvlakte en die Middelgebergtes geleë.

Argeologiese spore in die huidige stadsgebied dui daarop dat die eerste menslike bewoners hulle al in die steentydperk in die Dresden-streek gevestig het. Die eerste historiese verwysing na Dresden dateer uit 1206. Dresden het as regeringsetel vir die Keurvorstedom Sakse, die latere Koninkryk van Sakse en hoofstad van die Saksiese Republieke gefungeer.

Vandag vorm Dresden - naas Leipzig een van Sakse se twee groot kernstede - die politieke sentrum van Sakse. Ook die meeste belangrike kulturele staatsinstellings is hier gesetel, net soos talle tersiêre onderwysinstellings. Dresden is daarnaas 'n beduidende nywerheidsentrum in 'n metropolitaanse gebied wat by die mees dinamiese in Duitsland gereken word.

Dikwels word na Dresden as Elbflorenz verwys - 'n bynaam wat die stad aan die Italiaanse kunsmetropool Florence gelykstel en 'n sinspeling op sy kunsversamelings, sy erfenis van barok- en mediterreense boukuns asook sy skilderagtige ligging aan die Elbe-rivier is.

  1. www.statistik.sachsen.de

© MMXXIII Rich X Search. We shall prevail. All rights reserved. Rich X Search