ENIAC

Glen Beck (agter) en Betty Snyder (voor) programmeer die ENIAC.

ENIAC, afkorting vir Electronic Numerical Integrator And Computer,[1] was die eerste algemeendoelige elektroniese rekenaar. Dit was die eerste hoë-spoed, Turingvolledige, digitale rekenaar wat herprogrammeer kon word om 'n reeks rekenkundige probleme op te los,[2] terwyl vroeëre masjiene net sekere van die eienskappe gehad het. Die ENIAC is ontwerp en gebou deur die Amerikaanse Leër om artillerievuur-tabelle te bereken.

Die ENIAC was van onmiddelike belang. Met sy bekendstelling in 1946 is dit die "Enorme Brein" deur die media gedoop. Dit was 'n duisend keer vinniger as elektro-meganiese masjiene, 'n sprong in rekenkundige krag wat geen enkele masjien nog kon bereik nie. Die wiskundige vermoëns, gepaard met algemeendoelige programmering, het wetenskaplikes en industrialiste baie opgewonde gehad. Die uitvinders het dié nuwe idees versprei deur 'n reeks lesings aan te bied oor rekenaarargitektuur.

Die ENIAC se ontwerp en konstruksie is deur die Amerikaanse Leër gefinansier gedurende die Tweede Wêreldoorlog. Die konstruksiekontrak is geteken op 5 Junie 1943, en werk op die rekenaar het die volgende maand in die geheim begin onder die skuilnaam "Projek PX" deur die Universiteit van Pennsilvanië se Moore Skool van Elektriese Ingenieurswese. Die volledige masjien is onthul op 14 Februarie 1946 by die Universiteit van Pennsilvanië, en het $500 000 gekos. Dit is formeel deur die V.S. Weermagartillerie in diens geneem in Julie 1946. ENIAC is afgeskakel op 9 November 1946 vir opknappings en 'n geheue-opgradering, en is toe verskuif na die Aberdeen-toetsgronde, Maryland in 1947. Daar, op 29 Julie 1947, is dit weer aangeskakel en was dit in voortdurende gebruik tot 11:45 nm op 2 Oktober 1955.

Programmeerders Betty Jean Jennings (links) en Fran Bilas (regs) besig op die ENIAC se hoofkontrolepaneel by die Moore Skool van Elektriese Ingenieurswese. (Amerikaanse Weermag-foto van die argiewe van die ARL Tegniese biblioteek)

Die ENIAC is bedink en ontwerp deur John Mauchly en J. Presper Eckert van die Universiteit van Pennsilvanië.[3] Die span ontwerpingenieurs wat met die ontwikkeling behulpsaam was, sluit in Bob Shaw (funksietabelle), Chuan Chu (deler/vierkantswortelberekenaar), Kite Sharpless (meesterprogrammeerder), Arthur Burks (vermenigvuldiger), Harry Huskey (leser/drukker), Jack Davis (akkumulators) en Iredell Eachus Jr.[4]

  1. Goldstine, Herman H. (1972). The Computer: from Pascal to von Neumann. Princeton, New Jersey: Princeton University Press. ISBN 0-691-02367-0.
  2. Shurkin, Joel, Engines of the Mind: The Evolution of the Computer from Mainframes to Microprocessors, 1996, ISBN 0-393-31471-5
  3. Wilkes, M. V. (1956). Automatic Digital Computers. New York: John Wiley & Sons. pp. 305 pages. QA76.W5 1956.
  4. "Gazette Alumni: Obituaries (Iredell Eachus Jr.)".Aanhaling: “ Volgens sy familie was J. Presper Eckert EE'41 GEE'43 Hon'64 sy beste vriend in die universiteit. As Amerikaanse vlootoffisier tydens die Tweede Wêreldoorlog het hy 'n direkte opdrag van president Franklin D. Roosevelt ontvang om hom op vlootnavorsingswerk in Washington te fokus, waar hy betrokke was by die ontwikkeling van tegnologie vir wapenstelsels, radar-teikenstelsels en kommunikasietoestelle. Hy het toe 'n lid van die ENIAC-span by Penn geword. Volgens die Main Line Times het hy gevoel dat die logiese stroombane van die masjien meer ontdek is, eerder as uitgevind.”

© MMXXIII Rich X Search. We shall prevail. All rights reserved. Rich X Search