Feminisme

Een van die simbole van feminisme
Internasionale Vrouedag betoging in Egipte
Vroueregte in die wêreld.

Feminisme is 'n reeks sosio-politieke bewegings en ideologieë wat daarop gemik is om die politieke, ekonomiese, persoonlike en sosiale geslagsgelykheid te definieer en te vestig.[1][2][3][4][5] Feminisme huldig die standpunt dat samelewings die manlike standpunt prioritiseer en dat vroue in hierdie samelewings onregverdig behandel word.[6] Pogings om dit te verander, sluit in die stryd teen geslagstereotipes en die verbetering van opvoedkundige, professionele en interpersoonlike geleenthede en uitkomste vir vroue.

Die term feminisme word sedert die einde van die negentiende eeu verbind met politieke bewegings vir die regte van vroue, en veral om vroue gelyk te stel aan mans in die openbare sfeer. Dit beteken egter nie dat vroue voor die einde van die negentiende eeu geen aanspraak op gelykheid met mans gemaak het nie. In die agttiende eeu het Mary Wollstonecraft van Engeland reeds 'n boek getiteld The vindication of the rights of women geskryf. In hierdie geskrif maak sy daarop aanspraak dat vroue dieselfde opvoeding as mans moet ontvang, en indien dit sou gebeur, dat hulle op gelyke voet met mans hul plek in die samelewing sou kon volstaan. Dus, alhoewel sy nie die term feminisme gebruik nie, staan die argument reeds voluit in die teken van wat meer as 'n eeu later die feminisme genoem sou word, naamlik 'n politieke beweging vir vroueregte. 'n Mens sou dus heel vrugbaar die betekenis van die term feminisme kon verbreed om nie net te verwys na 'n Europees-Amerikaanse historiese beweging vir vroueregte (veral aan die begin tydens die suffragette-beweging vir vrouestemreg) nie. Dit kan breër dui op enige teks of argument geskryf of beredeneer vanuit die oogpunt van vroue se regte, belange of belewenisse, en wat dus vrougesentreerd is. Indien hierdie breër betekenis aanvaar word, is daar talle geskrifte wat ouer as die agttiende eeu is (dus voor Mary Wollstonecraft) wat ook as feministies beskou kan word. Een voorbeeld hiervan is die boek Hooglied in die Bybel, wat deesdae deur Bybel-historici beskou word as geskryf deur 'n vrou en ook vanuit die oogpunt van 'n vrou. Die twee geliefdes in Hooglied word as gelykes uitgebeeld, en die seksuele genot van sowel vrou as man word erken en selfs gevier. Kortom, sou 'n mens kon sê dat die sentiment of oortuiging ten grondslag van die feminisme veel ouer is as die term self, wat 'n heel konkrete, lokale en geskiedkundig beperkte betekenis het.

  1. Brunell, Laura; Burkett, Elinor. "Feminism". Encyclopaedia Britannica. Besoek op 21 Mei 2019.
  2. Lengermann, Patricia; Niebrugge, Gillian (2010). "Feminism". In Ritzer, G.; Ryan, J.M. (reds.). The Concise Encyclopedia of Sociology. John Wiley & Sons. p. 223. ISBN 978-1-40-518353-6.
  3. Mendus, Susan (2005) [1995]. "Feminism". In Honderich, Ted (red.). The Oxford Companion to Philosophy (2nd uitg.). Oxford University Press. pp. 291–294. ISBN 978-0-19-926479-7.
  4. Hawkesworth, Mary E. (2006). Globalization and Feminist Activism. Rowman & Littlefield. pp. 25–27. ISBN 978-0-7425-3783-5.
  5. Beasley, Chris (1999). What is Feminism?. New York: Sage. pp. 3–11. ISBN 978-0-7619-6335-6.
  6. Gamble, Sarah (2001) [1998]. "Introduction". The Routledge Companion to Feminism and Postfeminism. Routledge. pp. VII. ISBN 978-0-415-24310-0.

© MMXXIII Rich X Search. We shall prevail. All rights reserved. Rich X Search