Geslagsorgaan

Geslagsorgane is die organe van mense, diere, plante en ander organismes wat vir voortplanting verantwoordelik is. Baie soogdiere het sigbare geslagsdele: By die mens is dit die penis en skrotum by die man en die vulva by die vrou. Onsigbare geslagsorgane is die prostaat by die man en die vagina, eierstokke en baarmoeder by die vrou. Die sigbare dele word ook skaamdele genoem omdat hulle in baie kulture (bv. die Westerse kultuur) die voorwerp van skaamte is.

Voëls, reptiele en amfibieë het ’n polivalente kloaak. Ook plante het geslagsorgane, soos die manlike meeldrade en die vroulike stamper.

In die geslagsorgane word geslagselle en geslagshormone vervaardig. In die algemeen het manlike organismes net manlike geslagsorgane en vroulike organismes net vroulike organe, maar die onderskeid tussen die geslagte is nie altyd so absoluut nie: Baie diere is byvoorbeeld hermafrodiet (tweeslagtig). In die planteryk is daar 'n geleidelike ontwikkeling van die manlike en vroulike voortplantingsorgane. Skimmels en wiere vorm manlike en vroulike geslagselle deur deling van eensellige organe, te wete die vroulike oögonia en die manlike anteridia.

By varings en saadplante word verskillende soorte spore gevorm: groot, vroulike megaspore, waaruit die eiersel later ontwikkel, en klein, manlike mikrospore, wat vir die bevrugting van die eiersel verantwoordelik is. By bedeksadige plante word afsonderlike blomme vir die manlike en vir die vroulike geslagsorgane (onderskeidelik meeldrade en stampers) gevorm. By diere kan 'n onderskeid gemaak word tussen die werklike geslagskliere (gonades) en die afvoerbuis wat van hierdie kliere na buite lei.

Daarbenewens is die bou van die geslagsorgane in die geval van baie hoër dierspesies aangepas vir die paringsfunksie. In geslagskliere ontstaan die geslagselle (gamete) en die geslagshormone. Hierdie geslagshormone bepaal in groot mate die ontwikkeling van die sekondêre geslagskenmerke, die groei en die funksie van die geslagsorgane, asook die voortplantingsgedrag. Die vroulike geslagsorgane skei die hormoon estrogeen en progesteroon af, terwyl die manlike geslagskliere testosteroon afskei.


© MMXXIII Rich X Search. We shall prevail. All rights reserved. Rich X Search