Groepsdruk

Groepsdruk is die benaming wanneer een sosiale groep (gewoonlik van dieselfde ouderdom) druk op 'n bepaalde persoon (of kleinere groep) uitoefen om hul gedrag te verander sodat dit met dié van die groter groep ooreenstem. Dit kan sowel positief of negatief wees afhangende van die bepaalde onderwerp, voorkeure in musiek en kleredrag of uitkyk op die lewe.

Groepsdruk (of sosiale druk) is die direkte invloed wat 'n mens se portuurgroep op hom of haar uitoefen. Groepsdruk vind plaas wanneer 'n individu aangemoedig word om sy of haar portuur se voorbeeld te volg deur houdings, waardes of gedrag te verander om by dié van die individu of groep wat invloed uitoefen, te pas.

Groepsdruk lei daartoe dat 'n individu se optrede verander in reaksie op 'n gevoel van druk deur 'n portuurgroep.

Daar is heelwat navorsing gedoen oor groepsdruk se uitwerking op kinders en tieners, en in die populêre diskoers word die term meestal in die konteks van daardie ouderdomsgroepe gebruik. Die algemene navorsingstemas wanneer dit by kinders kom, is hul vermoë om onafhanklik besluite te neem, terwyl navorsing onder adolessente grootliks op die uitwerking wat groepsdruk op seksuele gedrag en dwelmmisbruik het fokus. Groepsdruk kan individue van alle etniese groepe, geslag en ouderdomme egter beïnvloed. Dit word nie meer bloot gedurende persoonlike interaksie uitgeoefen nie, maar ook op digitale platforms. Sosiale media bied geleenthede vir adolessente en volwassenes om groepsdruk op 'n daaglikse basis te ervaar. Navorsing dui daarop dat nie net individue nie, maar ook organisasies soos groot korporasies, vatbaar is vir groepsdruk, soos die druk van ander maatskappye in hul bedryf of van die hoofkantoor.


© MMXXIII Rich X Search. We shall prevail. All rights reserved. Rich X Search