Herversekering

Herversekering is die versekering van versekeraars. Versekeraars laat risiko wat hulle aanneem deur middel van herversekeringskontrakte aan herversekeraars oor. Dit is belangrik om tussen herversekering en koversekering te onderskei: eersgenoemde is die proses waarby 'n versekeraar, wat direkte polisse skryf, 'n gedeelte van sy risikolas aan 'n derdeparty oorlaat; laasgenoemde verwys na die gelyktydige versekering by twee versekeraars deur een party. Elke versekeraar in só 'n geval dra 'n ooreengekome deel van die risikolas. By herversekering is die versekerde in direkte kontak met die versekeraar alleen en het hy of sy geen saak met die herversekeraar nie. Indien die herversekeraar sy verpligting in geval van 'n eis nie kan nakom nie, moet die direkte versekeraar steeds aan die uitbetaling aan die eiser verantwoord. Met koversekering verseker die kliënt onafhanklik met elke koversekeraar en betaal hy of sy aparte premies aan elke versekeraar. 'n Eis word apart aan elke versekeraar gestel, sou so 'n geval voorkom. Indien een versekeraar nie sy verpligting in geval van 'n eis kan nakom nie, is die ander versekeraar(s) alleen vir hul proporsie van die versekering verantwoordelik.

Versekeraars maak gebruik van herversekering in geval waar bv. groot industriële of kommersiële eiendom se risiko só massief is dat die versekeringsfirma sy deure sal moet sluit in geval van 'n enkele groot eis van só 'n polishouer. 'n Manier om hierdie probleem te omseil is om herversekering uit te neem. Herversekering help ook om eiservarings oor tydperke uit te stryk, wat beleggersvertroue in versekeraars versterk. 'n Ander gebruik van herversekering is om te beskerm teen opeenhoping van risiko's, wat voorkom wanneer die versekeraar 'n ongebalanseerde portefeulje risiko's het. Dese wanbalans mag ontstaan danksy die aard van die besigheidsklasse wat geskryf word (bv. oorblootstelling aan motorversekeringseise), die geografiese areas wat gedek word of die tipe polishouers wat gelok word. Die risiko van opeengehoopte risiko's word verminder deur herversekeringsooreenkomste te onderteken sodat die versekeraar in geval van katastrofiese gebeurtenisse met eise kan byhou.


© MMXXIII Rich X Search. We shall prevail. All rights reserved. Rich X Search