’n Interseks, interseksueel of interseks(uele) persoon[1][2] is ’n individu wat gebore is met een van vgerskeie variasies van geslagseienskappe, insluitend chromosome, geslagskliere, geslagshormone of geslagsdele, wat "nie pas by die tipiese definisies van manlike of vroulike liggame nie".[3][4] Hierdie atipiese variasies kan by geboorte fisiek sigbaar wees omdat ’n baba met onduidelike voortplantingsorgane gebore word, of andersins is dit nie sigbaar nie en kan ’n mens dwarsdeur sy lewe onbewus daarvan wees.[5]
Voorheen is na intersekse as hermafrodiete of "aangebore eunugs" verwys.[6][7] In die 19de en 20ste eeu het sommige mediese kenners nuwe terme aanbeveel om die eienskappe wat hulle gesien het te klassifiseer. Die eerste terme was "ware hermafroditisme" en "vroulike of manlike pseudohermafroditisme".[8] Dié terme word nie meer gebruik nie. Dit word as misleidend en stigmatiserend beskou as dit vir mense gebruik word.[9] ’n "Hermafrodiet" word nou gedefinieer as ’n "dier of plant wat beide manlike en vroulike voortplantingsorgane het".[8] In 1917 het Richard Goldschmidt die term "interseksualiteit" geskep om na ’n verskeidenheid fisieke geslagsonduidelikhede te verwys.[8] In ’n kliniese opset word die term "geslagsontwikkelingsteurings" sedert 2006 gebruik.[10] Dié term is omstrede sedert dit begin gebruik is.[11][12][13]
Stigmatisering en diskriminasie staar interseksuele mense van hulle geboorte af in die gesig, of vandat dit bekend word dat hulle interseksueel is, byvoorbeeld tydens puberteit. Dit kan kindermoord, verlating en die stigmatisering van gesinne insluit.[14][15][16] Wêreldwyd word sommige kinders wat met onduidelike uitwendige geslagsorgane gebore word, chirurgies of met hormone verander om sosiaal aanvaarbaarder eienskappe te skep. Dit is egter omstrede en daar is geen bewyse dat dit voordele inhou nie.[17] Sulke behandeling kan sterilisasie insluit. Ook volwassenes, insluitend bekende vroulike atlete, is al aan sulke behandeling onderwerp.[18][19]
Sulke kwessies word al hoe meer as die skending van menseregte beskou.[20][21][22] Organisasies vir intersekse het ook al verklarings uitgereik oor die skending van menseregte, soos die Malta-verklaring van 2013 deur die derde Internasionale Interseksforum.[23]
Sekstoewysing by geboorte hang gewoonlik af van ’n kind se anatomiese geslags- en fenotipe. Die syfer vir die geboorte van interseks babas is van slegs 0,018% tot rofweg 1,7%, na gelang van watter toestande as interseksueel beskou word.[24] Ander interseksuele toestande betrek chromosome, geslagskliere en geslagshormone.[24][25] Sommige intersekse kan as ’n seun of meisie grootgemaak word, maar later in hulle lewe as die ander geslag geïdentifiseer word, terwyl die meeste met hulle toegewese geslag bly identifiseer.[26][27] In 2011 was Christiane Völling die eerste interseks wat suksesvol skadevergoeding geëis het in ’n saak oor chirurgie sonder toestemming.[28] In April 2015 het Malta die eerste land geword wat mediese ingryping sonder toestemming om geslagseienskappe te verander, verbied het. Dit sluit interseksuele mense in.[29][30]
Suid-Afrika was die eerste land wat interseksuele mense eksplisiet in wette teen diskriminasie genoem het.[31]
↑"Interseks" in die AWS aanlyn by viva-afrikaans.org (intekening nodig). Besoek op 13 November 2020.
↑"Interseksueel" in die Algemene Woordeboek van Eietydse Afrikaans (AWEA). Aanlyn by viva-afrikaans.org. Besoek op 13 November 2020.
↑Verwysingfout: Invalid <ref> tag; no text was provided for refs named un-2016
↑Houk, C. P.; Hughes, I. A.; Ahmed, S. F.; Lee, P. A.; Writing Committee for the International Intersex Consensus Conference Participants (Augustus 2006). "Summary of Consensus Statement on Intersex Disorders and Their Management". Pediatrics. 118 (2): 753–757. doi:10.1542/peds.2006-0737. ISSN0031-4005. PMID16882833. S2CID46508895.
↑Davis, Georgiann (11 September 2015). Contesting Intersex: The Dubious Diagnosis. New York University Press. pp. 87–89. ISBN978-1479887040.
↑Holmes, Morgan (September 2011). "The Intersex Enchiridion: Naming and Knowledge". Somatechnics. 1 (2): 388–411. doi:10.3366/soma.2011.0026. ISSN2044-0138.