Italiaans-Oos-Afrika

Italiaans-Oos-Afrika (Italiaans: Africa Orientale Italiana)[1] was ’n Italiaanse kolonie in die Horing van Afrika. Dit is in 1936 gestig deur die vereniging van Italiaans-Somalië, Italiaans-Eritrea en die pas besette Keiserryk Ethiopië, wat in die Tweede Italiaans-Ethiopiese Oorlog verower is.[2]

Italiaans-Oos-Afrika was verdeel in ses goewernorate. Eritrea en Somalië, wat sedert die 1880's Italiaanse besittings was, is met verowerde Ethiopiese gebiede vergroot en het die Eritrese en die Somaliese Goewernoraat geword. Die res van "Italiaans-Ethiopië" het bestaan uit die goewernorate Harar, Galla-Sidamo, Amhara en Scioa. Fascistiese koloniale beleid was een van verdeel en heers; die Somali's en Tigrayane is bevoordeel om die Amhare, wat die regerende etniese groep in Ethiopië was, te verswak.

Tydens die Tweede Wêreldoorlog is Italiaans-Oos-Afrika in November 1941 deur ’n hoofsaaklik Britse mag beset.[3] Ná die oorlog is Italiaans-Somalië en Eritrea onder Britse administrasie geplaas, terwyl Ethiopië weer onafhanklik geword het. In 1950 het die besette Somalië die Verenigde Nasies se Trustgebied Somaliland geword tot met sy onafhanklikwording in 1960. Die besette Eritrea het in 1952 ’n outonome deel van Ethiopië geword en in 1993 onafhanklik.

  1. Fuller, Mia (2016). Ben-Ghiat, Ruth (red.). Italian Colonialism (in Engels). Palgrave Macmillan US. ISBN 9781403981585. OCLC 961059564.
  2. "Italian East Africa" (in Engels). World Statesmen. Besoek op 9 November 2015.
  3. Ofcansky and LaVerle Berry, Thomas P. "Ethiopia in World War II". A Country Study: Ethiopia. Library of Congress. Besoek op 11 Januarie 2014.

© MMXXIII Rich X Search. We shall prevail. All rights reserved. Rich X Search