Kaas

Verskillende soorte Franse kaas

Kaas is 'n voedsel met 'n hoë inhoud van proteïen en vet, wat uit die gestolde melk van koeie, soms ook bokke, skape, rendiere en waterbuffels vervaardig word. In wese is dit 'n konsentraat van die melk se mees voedsame bestanddele, wat naas proteïen ook kalsium en die vitamine A, B2, B12 en pantoteensuur (B5) insluit. Daar is meer as 2 000 verskillende soorte kaas wêreldwyd, en meestal word stremsel gebruik om melk te laat stol, maar daar is ook soorte waar sure soos asyn en suurlemoensap of plantekstrakte verkies word. Stremsel is 'n ensiem wat in die mae van kalwers voorkom of as mikrobiologiese produk kunsmatig vervaardig word. Bakterieë word by die kaas gevoeg om onder meer die pH-waarde te verlaag en 'n spesifieke smaak te verkry.

Die Afrikaanse en Nederlandse woord kaas is afgelei van die Latynse caseus.


© MMXXIII Rich X Search. We shall prevail. All rights reserved. Rich X Search