Kanovaart

Piktogram wat Kanovaart aandui
'n Kanovaart
Mense ontspan in kano's

Kanovaart is 'n sport waar die vaarder 'n kano op die water voortdryf met 'n roeispaan. Kano's word meestal met 'n enkelblad-spaan aangedryf. 'n kajak is 'n kano wat met 'n dubbelblad-spaan ('n blad aan weerskante) gevaar word.

Behalwe as wedstrydsport word kanovaart ook algemeen as ontspanning beoefen.

'n Kano is 'n ligte boot wat met behulp van een of meer spane oor die water beweeg word. Teenswoordig word kanovaart hoofsaaklik vir ontspanning of as sportsoort beoefen. By wedstrydkanovaart word 2 tipes kano's gebruik, naamlik die gewone of Kanadese kano en die kajak. In verskillende wedstryde word onder meer in afdelings soos snelroei en langafstandwedvaarte meegeding.

Kanovaart word sedert 1938 in Suid-Afrika as 'n sportsoort beoefen en die land se 3 belangrikste langafstandwedvaarte vergelyk goed met die strafstes ter wêreld. Die gebruik om met kano's op die water te vaar, het in verskillende ou kulture onafhanklik van mekaar ontwikkel. Die oudste bekende kano is 'n silwermodel wat 6 000 jaar oud is en in 'n graf naby Ur in die Eufraatgebied gevind is.

Die term kano verwys oor die algemeen na 'n vaartuig met 'n houtraam wat vroeër met huide oorgetrek is, maar vandag met laaghout bedek word. In die laaste paar jaar word kano's ook van kunsvesel gemaak. Ander soortgelyke vaartuie, soos uitgeholde boomstamme, is waarskynlik nag vroeë as regte kano's gebruik. Teenswoordig word 2 verskillende tipes kano's gebruik, naamlik die gewone of Kanadese kano, wat sy oorsprong by die Rooihuide van Kanada gehad het, en die kajak, wat deur die Eskimo's gebruik is. Die belangrikste verskil tussen die 2 kano's is die spane.

Die spaan van ʼn gewone kano het net een roeiblad en kan dus net aan die een kant van die kano gebruik word, terwyl die spaan van die kajak aan albei punte 'n roeiblad het sodat dieselfde spaan gebruik kan word om weerskante van die vaartuig te roei. Die kajak is aan die bokant toe, behalwe vir die ruimte waar die roeier(s) sit, en dit lê laag in die water, terwyl die gewone kano bo gedeeltelik of heeltemal oop is en baie hoër rante het. By die kajak sit die roeier(s) en dryf die boot aan deur 'n spaan met 'n roeiblad aan elke punt, terwyl die gewone kano voortbeweeg word deur 'n roeier wat op sy knieë staan en met 'n enkelbladspaan om die beurt aan weerskante van die boot roei.


© MMXXIII Rich X Search. We shall prevail. All rights reserved. Rich X Search