Kelte

Adellike Galliër in die Museum van die Keltiese Beskawing in Bibracte (Frankryk). Die Kelte was gevreesde krygers wat dikwels die hoofde van hul vyande as trofeë versamel het
Keltiese oorledenes en hul grafte is stomme getuie van 'n beskawing wat min geskrewe bronne agtergelaat het
Uitstalling oor die Kelte, Universiteit van Tübingen, Duitsland

Die Kelte het – volgens tradisionele 19de eeuse hipoteses – sowat 3 000 jaar gelede tot 'n hoogs ontwikkelde beskawing in die hartland van Europa ontwikkel en in die volgende eeue die noorde van die vasteland oorheers. Hulle was veral 'n volk van krygers en ambagsmanne wat eersterangse kunswerke en wapentuig geskep en 'n gevreesde strydmag ontwikkel het. Meer onlangse navorsing, wat genetiese en taalkundige studies insluit en onder meer deur die argeoloog Barry Cunliffe gedoen is, dui egter daarop dat die Keltiese taal sy oorsprong in die uiterste weste van Europa het, en langs die Atlantiese seeroete vanuit die Iberiese Skiereiland noordwaarts versprei het.[1] Die Kelte het dus nie noodsaaklik 'n homogene etniese groep gevorm nie, maar het bestaan uit 'n verskeidenheid stamme vir wie die Keltiese taal en kultuur om verskillende redes aantreklik genoeg was om dit te oorneem.

Die Kelte is onder meer as die "Veroweraars van Europa" en die "Barbare van Europa" beskryf, maar hulle was in elk geval die eerste groot beskawing wat in Sentraal-Europa ontstaan het.[2] In die 2de eeu v.C. het hierdie beskawing sy hoogtepunt bereik en 'n gebied oorheers wat van Klein-Asië (die huidige Turkye) tot by Ierland en van die Iberiese Skiereiland tot by die huidige Duitsland gestrek het. Keltiese nedersettings het selfs in afgeleë gebiede soos Oekraïne ontstaan.

Die Kelte het handel met hulle buurvolke in die Mediterreense gebiede gedryf, en in Keltiese grafte is selfs voorwerpe ontdek wat uit die Midde-Ooste ingevoer is. Maar alhoewel groot dele van Europa noord van die Alpe deur Keltiese stamme oorheers is, het hierdie beskawing nooit 'n gemeenskaplike ryk gestig nie – hulle was eerder 'n soort konfederasie van verskillende stamme wat dieselfde taalgroep, godsdiens en kultuur gedeel het. Die Kelte het ook min historiese dokumente agtergelaat. Ons kennis oor hierdie beskawing berus dus oorwegend op argeologiese opgrawings en die beskrywings van antieke Griekse en Romeinse outeurs.

Die Kelte was gevreesde krygers en die beduidendste teenstanders van Rome. Nogtans het hulle verdeeldheid daartoe gelei dat hulle magsgebied geleidelik by die Romeinse Ryk ingelyf is. Binne 'n enkele dekade het Gaius Julius Caesar se aanval op Gallië 'n einde aan die Keltiese beskawing gemaak. Net in die westelike randgebiede van Europa het Keltiese volke daarin geslaag om hul onafhanklikheid te bewaar.

Die kulturele erfenis van die Keltedom sluit buitengewone religieuse en ander kunswerke asook mites en legendes in wat deur latere Keltiese skrywers versamel en neergeskryf is. Nogtans bly die Kelte in baie opsigte 'n raaiselagtige beskawing.

  1. Alice Roberts: The Celts. Search for a Civilization. (Based on the BBC series The Celts: Blood, Iron and Sacrifice). London: Heron Books 2016, bl. 234
  2. Konstam, Angus: Die Kelten. Von der Hallstatt-Kultur bis zur Gegenwart. Wene: tosa/Carl Ueberreuther 2007, bl. 6

© MMXXIII Rich X Search. We shall prevail. All rights reserved. Rich X Search