Kennisekonomie

Die term kennisekonomie verwys na die feit dat die samelewing van die laat 20ste en vroeë 21ste eeu wegbeweeg het van die voorafgaande industriële ekonomie na 'n ekonomiese stelsel wat sterk op dienstelewering steun. Produksie in die nywerhede word nou aangevul deur 'n kennisintensiewe dienstesektor wat onder meer navorsing en ontwikkeling, ontwerp, bemarking, logistiek, bedryfsorganisasie en bestuur insluit.

Die term het gewild geraak ná die publikasie van die bestuursteoretikus Peter Drucker se boek The Age of Discontinuity in 1969 waar dit as die titel van die twaalfde hoofstuk gebruik word. Drucker skryf dit toe aan die Oostenryks-Amerikaanse ekonoom Fritz Machlup (1902–1983).[1] Dit het sy oorsprong in Frederick Winslow Taylor se konsep van "wetenskaplike bestuur" (scientific management).

BInne die vakgebied van sosiologie gebruik Robert Lane die term "kennisgebaseerde samelewings" ("knowledgeable societies") vir die eerste keer in sy artikel "The Decline of Politics and Ideology in a Knowledgeable Society" wat in 1966 gepubliseer is. Hy beskryf 'n moderne samelewing waarin mense kennis deur opvoeding en wetenskap verwerf en hierdie kennis aanwend om probleme op te los of om eie waardes en oogmerke te bevorder.

Ondanks die huidige gewildheid van die term is kennis al lank 'n noodsaaklike bestanddeel en voorwaarde van 'n moderne nywerheidsamelewing. Industriële sektore soos masjienbou is heeltemal ondenkbaar sonder kennis. Baie deskundiges bevraagteken dan ook die akkuraatheid van terme soos "kennisekonomie" en "kennisgebaseerde samelewing" en beskou die gebruik daarvan as 'n moderverskynsel.

Die voortgaande prosesse van strukturele verandering in moderne ekonomieë lei egter tot 'n aantal verskynsels wat duidelik maak dat kennis 'n groter rol in die samelewing begin speel:

  • Die aandeel mense, wat in die vervaardigingsbedryf werksaam is, het in die nywerheidslande sterk begin daal. Die swaartepunt van ekonomiese aktiwiteite lê nou in die tersiêre sektor met sy kennisintensiewe dienste.
  • Produktiewe aktiwiteite word steeds meer afhanklik van moderne wetenskap en tegnologie.
  • Die maatskaplike aansien van "kenniswerkers" is hoër as die van ambagsmanne of ander beroepsmense. Groot waarde word geheg aan akademiese grade en lewenslange leergierigheid.
  1. Patrick Barkham: The question: What is the knowledge economy? In: The Guardian, 17 Julie 2008. Besoek op 16 Mei 2017

© MMXXIII Rich X Search. We shall prevail. All rights reserved. Rich X Search