Kijif

Kijif
Київ

Kaart Wapen
Vlag
 Land Vlag van Oekraïne Oekraïne
 Metropolitaanse Munisipaliteit Stad Kijif
 Koördinate 50°27′N 30°31′O / 50.450°N 30.517°O / 50.450; 30.517
 Stigting 6de eeu
 Oppervlakte:  
 - Totaal 839 vk km
 Hoogte bo seevlak 179 m
 Bevolking:  
 - Totaal (1 Januarie 2021) 2 962 180[1]
 - Bevolkingsdigtheid 3 299/vk km
 - Metropolitaanse gebied 3 475 000[2]
 Etniese groepe:  
 - Oekraïners 82,2%
 - Russe 13,1%
 - Jode 0,7%
 - Ander Minder as 5%
 Tydsone UTC +2 (OET)
 - Somertyd UTC +3 (OEST)
 Burgemeester Witali Klitsjko (BPP)
 Amptelike webwerf kyivcity.gov.ua

Kijif (Oekraïens: Київ; [ˈkɪjiu̯], ; Engels: Kyiv, Kiev), voorheen Kiëf in Afrikaans,[nota 1] is die hoofstad van Oekraïne en die land se stad met die meeste inwoners. Dit is in Noordsentraal-Oekraïne aan die Dnjepr (Oekraïens: Dnipro) geleë. Op 1 Januarie 2021 het dit 'n bevolking van 2 962 180 gehad,[3] en dit is dus die stad in Europa met die sewende meeste inwoners.[4]

Kijif is 'n belangrike nywerheids-, wetenskaps-, opvoedings- en kulturele sentrum in Oos-Europa. Dit het baie hoëtegnologiebedrywe, hoëropvoedingsinstellings en historiese landmerke. Die stad het 'n uitgebreide openbarevervoer- en infrastruktuurstelsel, insluitende die Kijifse Metro.

Die stad se naam is afgelei van dié van Ki, een van sy vier legendariese stigters. Gedurende sy geskiedenis het Kijif, een van die oudste stede in Oos-Europa, deur verskeie stadiums van prominensie en obskuriteit gegaan. Dit het waarskynlik reeds in die 5de eeu as 'n handelsentrum bestaan. Dit was 'n Slawiese nedersetting aan die groot handelsroete tussen Skandinawië en Konstantinopel, en was 'n skatpligtige van die Chasare[5] totdat dit in die middel van die 9de eeu deur die Warangiërs (Wikings) oorgeneem is. Onder Warangiese heerskappy het dit die hoofstad geword van Kiëf-Roes, die eerste Oos-Slawiese staat. In die Mongoolse inval van 1240 is dit heeltemal verwoes en dit het vir die eeue daarna die grootste deel van sy invloed verloor. Dit was 'n provinsiale hoofstad van mindere belangrikheid aan die buitewyke van die gebiede wat deur magtige bure beheer is, eers die Groothertogdom Litaue, toe die Koninkryk Pole en daarna die Russiese Ryk.[6]

Die stad het weer floreer tydens Rusland se nywerheidsomwenteling in die laat 19de eeu. In 1918, nadat die Oekraïense Volksrepubliek sy onafhanklikheid van Sowjet-Rusland verklaar het, het Kijif sy hoofstad geword. Van 1921 af was Kijif 'n stad in Sowjet-Oekraïne en van 1934 af die republiek se hoofstad. Dit is weer heeltemal verwoes in die Tweede Wêreldoorlog, maar het ná die oorlog vinnig herstel en die Sowjetunie se derde grootste stad gebly.

Ná die verval van die Sowjetunie en Oekraïne se onafhanklikwording in 1991 het Kijif Oekraïne se hoofstad gebly en 'n bestendige invloei van etniese Oekraïners van ander dele van die voormalige Sowjetunie beleef.[7] Gedurende die land se transformasie in 'n vryemarkekonomie en demokrasie het Kijif Oekraïne se grootste en rykste stad gebly. Sy nywerheidsproduksie, wat van bewapening afhanklik was, het gedaal ná die verval van die Sowjetunie, en dit het sy wetenskap en tegnologie negatief beïnvloed, maar nuwe sektore van die ekonomie, soos dienste en finansies, het Kijif help groei en geld verskaf vir die ontwikkeling van behuising en 'n stedelike infrastruktuur. Kijif het die streek in Oekraïne geword wat die meeste pro-Westers is; politieke partye wat opname in die Europese Unie voorgestaan het, het oorheers gedurende die verkiesings.[8][9]

  1. (uk) "Чисельність наявного населення України" (PDF). Oekraïense Staatsdiens vir Statistiek. Geargiveer (PDF) vanaf die oorspronklike op 4 November 2021. Besoek op 11 Julie 2021.
  2. (en) "Major Agglomerations of the World". Citypopulation.de. 1 Januarie 2021. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 23 November 2019. Besoek op 23 September 2021.
  3. Чисельність населення м.Києва [Number of present population of Ukraine 1 January 2021] (PDF) (in Oekraïens). UkrStat.gov.ua. 1 Januarie 2021. Geargiveer vanaf die oorspronklike (PDF) op 6 April 2022. Besoek op 15 Julie 2021.
  4. "City Mayors: The 500 largest European cities (1 to 100)". www.citymayors.com.
  5. "Kiev". TheFreeDictionary.com. Besoek op 4 Julie 2015.
  6. "Kyiv – History". Encyclopædia Britannica (in Engels). Besoek op 9 Maart 2020.
  7. Magocsi, Paul Robert (2010). A History of Ukraine: The Land and Its Peoples (2de, hersien uitg.). University of Toronto Press. p. 481. ISBN 978-1-4426-9879-6.
  8. "Виборчі комісії фіксують перемогу опозиційних кандидатів у Києві". www.radiosvoboda.org.
  9. Битва за Київ: чому посада мера вже не потрібна Кличку і чи будуть вибори взагалі (in Oekraïens). Kontrakty. 19 Maart 2013. Besoek op 19 Augustus 2013.


Verwysingfout: <ref> tags exist for a group named "nota", but no corresponding <references group="nota"/> tag was found


© MMXXIII Rich X Search. We shall prevail. All rights reserved. Rich X Search