Klankversterker

McIntosh MA6800 stereo-klankversterker

'n Klankversterker is 'n elektroniese toestel wat gebruik word om swak seine, afkomstig van byvoorbeeld ʼn mikrofoon of die toonkop van ʼn platespeler, sodanig te versterk dat dit duidelik deur 'n luidspreker hoorbaar is. Hoewel die toestel basies ingerig is om 'n kragtige weergawe van seine te gee, is dit al so gevorder dat, afgesien van die volume (hard- of sagtheid), die toon sowel as die ruisvlak van die klank beheer kan word.

In 'n nuwe, opwindende ontwikkeling, waarin die Amerikaanse onderneming Western Electric die voortou geneem het, is dit vanaf die 1920's met behulp van effenaars ("equalisers") moontlik gemaak om selfs kontrole oor die verskillende frekwensies van klank uit te oefen, waardeur sekere klanke beter na vore gebring kon word. Teen die middel van die 1930's kon radioprogramme met 'n frekwensieweergawe van tussen 50 en 8 000 Hz met 'n sein-tot-geraas-verhouding van meer as 50dB deur middel van landlyne vanaf New York tot Los Angeles uitgesaai word.[1][2]

Elektriese seine wat ontstaan wanneer byvoorbeeld 'n mikrofoon lugtrillings in elektriese golwe omsit, is veels te swak om 'n luidsprekerkeël te laat tril en daarom word 'n klankversterker gebruik. Tegnies gesproke, is 'n versterker 'n laefrekwensiewisselspanningsversterker, maar omdat die wisselspanningsgolwe nie eenvormig, soos byvoorbeeld die van 'n sinusgolf, is nie, moet spesiale voorsorg dikwels getref word om klanke getrou weer te gee.

Die algemeenste metode is om seine in stappe te versterk. In die eerste stap word die amplitude (kruinwaarde van 'n elektriese golf) van die sein met behulp van 'n voorversterker vergroot. Dit word opgevolg deur die kragversterker, wat nie alleen die amplitude verder verhoog nie, maar ook die drywing verskaf om die luidsprekers te laat werk.

ʼn Gewone versterker, byvoorbeeld ʼn voorversterker, is 'n versterker wat of stroom, of spanning versterk. Voor- en kragversterkers word gewoonlik in dieselfde kas ingebou en van 'n beheereenheid voorsien. Daarmee word die klankvolume, toon, ruisvlak en die kanaalbalans (indien twee of meer luidsprekers gebruik word) beheer. Vroeër het albei die versterkers uit 'n aantal afsonderlike elektroniese komponente bestaan, maar tans word dit in een blokkie, 'n sogenaamde geïntegreerde versterker ("integrated amplifier"), ingebou.

Met so 'n blokkie word nie alleen die komponente drasties verminder nie, maar die betroubaarheid word ook verhoog en die onkoste verminder. Die geïntegreerde versterker ontwikkel minder hitte, waardeur komponente nadelig beïnvloed sou word, en het minder onderlinge verbindings wat kan kortsluit of verbreek kan word.

  1. Western Electric Line Equalizers 23A Equalizer and 279A Equalizer Panel For Radio Telephone Broadcast Systems
  2. "Psidex Audio Laboratory: A Brief History of Equalization". Geargiveer vanaf die oorspronklike op 14 April 2017. Besoek op 28 November 2018.

© MMXXIII Rich X Search. We shall prevail. All rights reserved. Rich X Search