Koffie

'n Koppie swart koffie (sonder melk)
Koffieborrels van naby beskou
Die Chinese Saal (Sala Cinese) in die Caffè Florian, tans die oudste koffiehuis ter wêreld, sedert 1720 geleë op Venesië se Piazza San Marco (Sint Markusplein)[1]. Die Venesiaanse tradisie van koffiehuise strek verder terug tot omstreeks 1645

Koffie (Turks kahve vanaf Arabies قهوة qahwa, wat "stimulerende drank" beteken) is 'n wyd genuttigde stimulerende drankie wat met geroosterde sade voorberei word. Hierdie sade, wat algemeen bekend staan as koffiebone, is afkomstig van die koffieplant. Koffie is vir die eerste keer in die 9de eeu gedrink, toe dit in die hooglande van Ethiopië ontdek is.[2] Van daar het dit na Egipte en Jemen versprei en teen die 15de eeu het dit ook Persië, Turkye en Noord-Afrika bereik. Vanuit die Moslemwêreld (hoofsaaklik die Ottomaanse Ryk) het koffie na Venesië en Italië versprei, en toe na die res van Europa en die Amerikas.[3] Vandag is koffie een van die gewildste drankies ter wêreld.[4]

Koffiebessies, wat die koffiesade, of "bone", bevat, word deur verskeie spesies van die klein, immergroen bos van die genus Coffea geproduseer. Die twee algemeenste spesies is Coffea canephora (ook bekend as Coffea robusta) en Coffea arabica, wat in Latyns-Amerika, Suidoos-Asië en Afrika verbou word. Wanneer hulle ryp is, word die bessies gepluk, geprosesseer en laat droog. Die sade word dan gerooster, waardeur dit 'n aantal fisiese en chemiese veranderinge ondergaan. Die mate, waartoe dit gerooster word, hang af van die smaak wat verlang word. Hulle word dan dikwels gemaal en gebrou, met koffie as die eindresultaat. In 1877 het die Oostenrykse entrepreneur Julius Meinl II 'n omwenteling in die koffiebedryf teweeggebring deur sy eie roostermetode te ontwikkel waarby koffiebone nie meer regstreeks aan verhittingsgasse blootgestel is nie wat die koffie 'n onaangename bysmaak gegee het. Koffie kan voorberei en bedien word op 'n verskeidenheid maniere.

Deur die loop van die moderne geskiedenis het koffie in baie samelewings 'n belangrike rol gespeel. In Afrika en Jemen is dit tydens godsdienstige seremonies gebruik. Die Ethiopiese Kerk het die nuttiging van koffie gevolglik verban, tot en met die heerskappy van Keiser Menelik II.[5] In die 17de eeu is dit in die Ottomaanse Ryk verban vir politieke redes en is dit geassosieer met oproerige politiese aktiwiteite in Europa.

Koffie is 'n belangrike handelsproduk: in 2004 was dit die mees uitgevoerde produk in twaalf lande[6] en in 2005 was dit die wêreld se sewende grootste wettige landboukundige uitvoerartikel.[7] Die verbouing van koffie en die impak daarvan op die omgewing word met ligte omstredenheid bejeën. Baie studies het die verhouding tussen die drink van koffie en sekere mediese toestande ondersoek; of die effekte van koffie positief of negatief is, word steeds betwis.[8]

In Afrikaans staan koffie ook as "boeretroos" bekend en word algemeen gebruik om 'n koppie koffie te beskryf wat tipies swart, sonder room of melk met suiker aangebied word.

  1. "Caffeflorian.com: The Café in Venice since 1720. Besoek op 12 Januarie 2019". Geargiveer vanaf die oorspronklike op 29 September 2022. Besoek op 12 Januarie 2019.
  2. Mekete Belachew, "Coffee," in von Uhlig, Siegbert, ed., Encyclopaedia Aethiopica (Weissbaden: Horrowitz, 2003), bl.763.
  3. Meyers, Hannah: "Suave Molecules of Mocha" -- Coffee, Chemistry, and Civilization Geargiveer 9 Maart 2005 op Wayback Machine, Maart 2005. Verkry op 3 Februarie 2007.
  4. .Villanueva, Cristina M.; Cantor, Kenneth P.; King, Will D.; Jaakkola, Jouni J. K.; Cordier, Sylvaine; Lynch, Charles F.; Porru, Stefano; Kogevinas, Manolis (2006). Total and specific fluid consumption as determinants of bladder cancer risk[dooie skakel] in die International Journal of Cancer. Volume 118:8. Bl. 2040–2047.
  5. Richard Pankhurst, Economic History of Ethiopia (Addis Ababa: Addis Ababa Universiteit, 1968), bl. 198
  6. FAO Statistical Yearbook 2004 Vol. 1/1 Table C.10: Most important imports and exports of agricultural products (in value terms)(2004). Geargiveer 25 Junie 2008 op Wayback Machine FAO Statistics Division, 2006.
  7. [1] FAOSTAT Core Trade Data (commodities/years). FAO Statistics Division, 2007. Om die waardes te verkry: kies "commodities/years". By "subject", kies "Export value of primary commodity." Onder "country," kies "World." Onder "commodity," hou die shift-sleutel in en kies al die kommoditeite in die "single commodity"-kategorie. Kies die jaar wat verlang word en kies dan "show data".
  8. Kummer, Corby (2003). The Joy of Coffee, bl 160–165.

© MMXXIII Rich X Search. We shall prevail. All rights reserved. Rich X Search