Kopenhagen

Kopenhagen
København


Europese Kultuurstad 1996
Europæisk kulturby 1996


Kaart Wapen
Vlag
 Land Vlag van Denemarke Denemarke
 Administratiewe streek Hovedstaden
 Koördinate 55°41′N 12°34′O / 55.683°N 12.567°O / 55.683; 12.567
 Stigting Omtrent 1000
 Oppervlakte:  
 - Totaal 90,01 vk km
 Hoogte bo seevlak 1–91 m
 Bevolking:  
 - Totaal (1 Julie 2022) 660 842
 - Bevolkingsdigtheid 7 298/vk km
 - Stedelike gebied 1 366 301
 Tydsone UTC +1 (MET)
 - Somertyd UTC +2 (MEST)
 Klimaat  
 - Tipe Gematigde seeklimaat
 - Gemiddelde jaarlikse temperatuur 9,1 °C
 - Gem. temp. Januarie/Julie 1,4 / 18,1 °C
 - Gemiddelde jaarlikse neerslae 645,6 mm
 Burgemeester Sophie Hæstorp Andersen
 Amptelike webwerf international.kk.dk

Kopenhagen (Deens: København, [kʰøpm̩ˈhɑwˀn], ; Sweeds: Köpenhamn) is die hoofstad en grootste stad van Denemarke. Kopenhagen het 'n oppervlakte van 90,01 vierkante kilometer en 'n bevolking van 660 842 (soos op 1 Julie 2022). Die agglomerasie van Kopenhagen – die tweede grootste in Noord-Europa na Stockholm – het 1,36 miljoen inwoners. Kopenhagen is die grootste stad van die administratiewe streek Hovedstaden, maar nie die hoofstad nie; dit is Hillerød.

'n Lugbeeld van Kopenhagen se stadsentrum

Kopenhagen is aan die Öresund en op die eilande Seeland en Amager geleë en word deur 'n gekombineerde tonnel en brug met 'n totale lengte van 16 kilometer met Malmö in Swede verbind. In teenstelling met baie ander Europese metropole is min aangrensende stede by Kopenhagen ingelyf – die stad Frederiksberg met 93 000 inwoners is byvoorbeeld as 'n enklawe in die stadsgebied van Kopenhagen geleë.

Kopenhagen is 'n beduidende handelsmetropool met masjienbou, porselein- en tekstielvervaardiging, elektrotegniese, farmaseutiese, chemiese en grafiese nywerhede, brouerye, skeepsbou en 'n olieraffinadery. Die seehawe van Kopenhagen beskik oor 'n groot houerterminaal en veerbootverbindings na Swede. Die internasionale lughawe is in Kastrup geleë, en sedert 2002 beskik Kopenhagen ook oor 'n moltreinstelsel.

As die politieke, kulturele en opvoedkundige sentrum van Denemarke beskik Kopenhagen oor 'n groot aantal tersiêre onderwysinstellings soos die Universiteit van Kopenhagen wat reeds in 1479 gestig is, 'n tegniese en 'n universiteit vir inligtingtegnologie en 'n kunsakademie. Die stad is die setel van die Deense Akademie van Wetenskappe en het tot 'n beduidende Europese sentrum van biotegnologie ontwikkel.

Die bekendste baken van Kopenhagen is die "Klein Seemeermin", 'n bronsskulptuur wat in 1913 deur die beeldhouer Edvard Eriksen geskep is. Ander belangrike besienswaardighede sluit die slotte Charlottenborg en Rosenborg (17de eeu), Christiansborg (18de eeu) en Amalienborg asook die Nasionale en Thorvaldsen-museum, die Staatsmuseum vir Kuns, die Museum vir Moderne Kuns, die Gliptoteek Ny Carlsberg en die bekende vermaaklikheidspark Tivoli in. Kopenhagen is aangewys as die Europese Kultuurstad van die jaar 1996.

Kopenhagen het in 1254 stadstatus verkry en fungeer sedert 1445 as die setel van die koninklike hof. Die stad is in 1658/1659 deur Sweedse troepe beleër en in 1807 deur Britse oorlogskepe gebombardeer. Tussen 1940 en 1945 was Kopenhagen deur Duitse troepe beset.


© MMXXIII Rich X Search. We shall prevail. All rights reserved. Rich X Search