Kopiereg

Die kopieregsimbool word gebruik as kennisgewing dat 'n werk onderhewig is aan beskerming onder kopiereg.

'n Kopiereg of outeursreg is 'n vorm van intellektuele eiendom wat die houer daarvan geregtig om die kopieer en gebruik van 'n oorspronklike, kreatiewe uiting, soos 'n literêre werk, rolprente, musikale werk of klankopname, skildery, rekenaarprogram of 'n industriële ontwerp te beperk vir 'n gedefinieerde tydperk. In Suid-Afrika word kopiereg gereël deur die Wet op outeursreg en word die tydperk waarvolgens die beskerming voor geldig is gedefinieer as 50 jaar na die eerste bekendstelling aan die publiek of 50 jaar na die afsterwe van die outeur indien die werk nie tydens die outeur se leeftyd gepubliseer is nie.

Die regte afdwingbaar onder kopieregbeskerming dek slegs die gebruik van ontasbare goedere— die storie wat in 'n boek vertel word is beskerm teen misbruik eerder as die kopie self, of die vorm van 'n beeldhouwerk eerder as die fisiese gekerfde rots. Kopieregte beskerm nie idees nie, wat eerder die domein van patente beslaan (indien enigsins), maar eerder die uitdrukking van die idee. 'n Kopiereg op 'n tekenprentkarakter soos bv. Mickey Muis, kan nie ander verhoed om ook pratende muise te skep nie, maar slegs keer dat hulle nie die karakter en kenmerke van die muis te naby kan namaak nie.

Kopiereg funksioneer soortgelyk aan patente in die sin dat hulle albei die uitsluitlike regte toeken oor hulle onderskeie onderwerpe en wat afdwingbaar is teen enigeen (behalwe vir 'n paar uitsonderings hieronder bespreek). Dit staan in teenstelling met handelsmerkbeskerming, wat byna altyd slegs teen mededingers in dieselfde mark afgedwing kan word en slegs vir beperkte kommersiële gebruike. Verder word kopiereg- en patentbeskerming, in teenstelling met handelsmerke, vasgestel vir 'n statutêr gedefinieerde tydperk, waartydens die kopiereg eienaar nie noodwendig van sy werk gebruik hoef te maak om te keer dat ander dit wel doen nie.

Na afloop van die termyn betree die beskermde werk die publieke domein en is vrylik beskikbaar vir gebruik deur enigeen.


© MMXXIII Rich X Search. We shall prevail. All rights reserved. Rich X Search