Kredietkrisis

'n Kredietkrisis is wanneer banke drasties minder lenings toestaan as gewoonlik. Dit geld vir alle soorte lenings, insluitende:

  • Bank-tot-bank lenings: Banke staan lenings aan mekaar toe - wanneer 'n bank heelwat geld uitgeleen het, moet hy by ander banke geld leen om nog meer lenings te kan toestaan, of om aan wetlike vereistes van minimum beskikbare fondse na te kom.
  • Lenings aan maatskappye: Hierdie lenings is nodig om dit vir maatskappye moontlik te maak om uit te brei, en dus vir die ekonomie om te groei.
  • Lenings aan individue, byvoorbeeld huis- en motorlenings.

Ten tye van 'n kredietkrisis is daar 'n algemene gebrek aan vertroue. Banke het nie genoeg vertroue om geld aan mekaar te leen nie, want hulle vermoed die ander bank kan dalk bankrot speel. Dit veroorsaak 'n verlaging van likiditeit, en word verder vererger deurdat mense en instellings met spaargeld geneig is om hul geld uit banke te onttrek, wat weer lei tot verdere verlies aan vertroue in banke.

Die gebrek aan vertroue en likiditeit beïnvloed ook maatskappy- en individuele leners, en veel minder lenings as gewoonlik word toegestaan. Die gebrek aan krediet rem ekonomiese groei, en lei tot minstens 'n resessie, en heel moontlik 'n depressie.


© MMXXIII Rich X Search. We shall prevail. All rights reserved. Rich X Search