Krygsgeskiedenis

Krygsgeskiedenis (of die militêre geskiedenis) is die vertakking van die wetenskap wat hom besig hou met die verskynsel van oorlog in die verlede. Die krygsgeskiedenis bemoei hom nie slegs met wat daar in die tallose oorloë gebeur het nie, want oorlog is geen geïsoleerde verskynsel nie - dit vloei voort uit ʼn sameloop van kragte in die samelewing. In die loop van die eeue verander die oorsake, doelstellings, verskyningsvorme en gevolge van oorloë voortdurend na gelang van die maatskaplike omstandighede van die betrokke tyd.

Op sy beurt het die oorlog weer 'n invloed op die samelewing. Oorlog kom in byna alle kulture voor. Die verskynsel het egter in die Weste die mees opsienbarende ontwikkelings deurgemaak, ontwikkelings wat in ander kulture eers heelwat later gevolg het. In die krygsgeskiedenis word dikwels 'n onderskeid gemaak tussen 'n land-, 'n see- en 'n lugoorlog. Tot omstreeks die middel van die 19 de eeu het die klem geval op landwaartse oorlogvoering, maar daarna het die tegnologiese ontwikkeling ʼn totale omwenteling in oorlogvoering teweeggebring.

In die 20 ste eeu het sekere van die groter konflikte wat omvang en verlies aan lewens en eiendom betref, in geen verhouding meer gestaan tot die doeleindes van die stryd nie; oorlog het dus minder funksioneel geword.


© MMXXIII Rich X Search. We shall prevail. All rights reserved. Rich X Search