Kultusrolprent

’n Kultusrolprent of kultusfliek is ’n rolprent wat ’n kultusaanhang gekry het. Hulle is bekend vir hul getroue, passievolle aanhangers, ’n subkultuur wat dit oor en oor kyk, aanhalings uit die fliek gebruik en gehoordeelname.[1] Inklusiewe definisies sluit groot alteljeeproduksies in, veral lokettreffers,[2] terwyl eksklusiewe definisies meer fokus op obskure prente wat mense se sienings uitdaag – flieks wat nie hoofstroomgehore lok nie. Dit is nie altyd maklik om te bepaal wat ’n kultusfliek is en wat nie, want dit word vir ’n groot verskeidenheid prente gebruik.[1] Die term word lank reeds gebruik, maar het in die 1970's algemeen gewild geword.

What are the requirements for transforming a book or movie into a cult object? The work must be loved, obviously, but this is not enough. It must provide a completely furnished world so that its fans can quote characters and episodes as if they were aspects of the fan's private sectarian world, a world about which one can make up quizzes and play trivia games so that the adepts of the sect recognize through each other a shared expertise.

Umberto Eco, "Casablanca: Cult Movies and Intertextual Collage," 1984[3]

Die oorsprong van kultusprente lê in omstrede en verbode rolprente wat deur getroue aanhangers in die kringloop gehou word. Soms kry ’n prent wat herontdek word, ’n kultusaanhang dekades ná die oorspronklike uitreiking. Ander kultusflieks word intussen gewild of herwaardeer as klassieke prente; daar is nie ooreenstemmigheid of sulke gewilde en aanvaarde prente steeds kultusflieks is nie. Ná hul mislukking by die loket word sommige kultusflieks gewild op betaalkanale of tuisvideo's. Ander het hul eie rolprentfeeste tot gevolg. Kultusflieks kan ook byval vind by ’n spesifieke subkultuur en hul eie subkultuur vorm. Sommige se aanhang word ook bepaal deur demografie.

Kultusflieks verbreek dikwels kulturele taboes en bevat soms oormatige gebruik van geweld, bloed, seksualiteit, vloekwoorde of ’n kombinasie daarvan. Dit kan lei tot omstredenheid, sensuur en selfs ’n verbod. Daar kan teenstand wees as ’n fliek wat nie ’n sekere mate van omstredenheid veroorsaak het nie, bemark word as ’n kultusfliek. Hoofstroomprente en groot lokettreffers kry ook soms ’n kultusaanhang soortgelyk aan minder bekende flieks; aanhangers van dié prente lê gewoonlik nadruk op die nis-aantrekkingskrag daarvan en verwerp die gewilder aspekte.

Sedert die laat 1970's het kultusflieks al hoe gewilder geword. Prente wat eens beperk was tot ’n obskure kultusaanhang, kan nou ’n hoofstroomprent word, en die wys van kultusflieks kan winsgewend wees. ’n Té breë gebruik van die term het omstredenheid veroorsaak omdat sommige mense voel dit het ’n betekenislose beskrywing geword[4] wat op enige prent toegepas word wat net effens vreemd of onkonvensioneel is;[5] ander beskuldig Hollywood-ateljees daarvan dat hulle probeer om kultusflieks kunsmatig te skep of die term gebruik as ’n bemarkingstegniek. Rolprente word soms as ’n "kits-kultustreffer" beskryf nog voordat hulle uitgereik word. Ander prente het ’n enorme, vinnige kultusaanhang gekry danksy die sosiale media.

  1. 1,0 1,1 Haigh, Ian (3 Mei 2010). "What Makes a Cult Film?". BBC News Magazine (in Engels). Geargiveer vanaf die oorspronklike op 10 November 2019. Besoek op 17 April 2013.
  2. Dowling, Stephen (17 Oktober 2003). "When a Cult Film's Not a Cult Film". BBC News (in Engels). Geargiveer vanaf die oorspronklike op 31 Oktober 2019. Besoek op 19 April 2013.
  3. Dwight Garner (29 Desember 2009). "Dissertations on His Dudeness". The New York Times. Besoek op 6 Augustus 2012.
  4. Palopoli, Steve (25 Julie 2002). "The Last Cult Picture Show". Metro Silicon Valley (in Engels). Geargiveer vanaf die oorspronklike op 12 Mei 2020. Besoek op 27 April 2013.
  5. Martin, Adrian (2008). "What's Cult Got to Do with It? In Defense of Cinephile Elitism." Cineaste , Winter 2008, 34 (1)

© MMXXIII Rich X Search. We shall prevail. All rights reserved. Rich X Search