Kunsrolprent

Carl Theodor Dreyer, hier in 1965 afgeneem, het die 1928-prent The Passion of Joan of Arc geregisseer wat algemeen beskou word as ’n mylpaal in die rolprentbedryf.

’n Kunsrolprent of kunsfliek is gewoonlik ’n ernstige, onafhanklike prent wat op ’n uitgelese groep gemik is, eerder as op ’n massagehoor.[1] Dit is bedoel "om ’n ernstige kunswerk te wees, dikwels eksperimenteel en nie vir die algemene smaak nie";[2] hulle word "hoofsaaklik om estetiese redes gemaak eerder as vir wins",[3] en hulle bevat "onkonvensionele of hoogs simboliese inhoud".[4]

Sulke prente kan elemente soos sosiale realisme, klem op die uitdrukkingsbehoeftes van die regisseur en ’n fokus op die denke, drome en motivering van die karakters bevat, in teenstelling met die duidelike, doelgerigte storielyn van gewilder prente. Die rolprentkenner David Bordwell beskryf kunsflieks as "’n rolprentgenre met sy eie, afsonderlike konvensies".[5]

Die vervaardigers van kunsflieks stel gewoonlik hul prente in spesialiteits- of kunsteaters en op rolprentfeeste bekend. Omdat hulle op ’n kleiner gehoor gemik is, kry hulle selde die finansiële steun van groter produksies en is daar minder spesiale effekte, duur akteurs en advertensieveldtogte by betrokke. Gewoonlik word meer onbekende akteurs en eenvoudiger filmstelle gebruik om geld te bespaar.

’n Sekere mate van kennis en ondervinding is gewoonlik nodig om sulke prente ten volle te verstaan en waardeer.[6] Vir reklame steun kunsflieks op die publisiteit wat deur rolprentresensente verskaf word, besprekings deur kunsrubriekskrywers en bloggers, asook mondelinge aanbeveling deur mense wat dit gesien het. Omdat hulle gewoonlik min kos, hoef hulle minder geld te maak om winsgewend te wees.

  1. "Art film definition – Dictionary – MSN Encarta"..  Geargiveer 30 Augustus 2009 op Wayback Machine
  2. The American Heritage® Dictionary of the English Language, 4de uitg., © 2000 deur Houghton Mifflin Company. Houghton Mifflin Company
  3. Random House Kernerman Webster's College Dictionary, © 2010 K Dictionaries Ltd. © 2005, 1997, 1991. Random House, Inc.
  4. "Art film – Define Art film by Dictionary.com". Dictionary.com (in Engels). Geargiveer vanaf die oorspronklike op 5 Oktober 2015. Besoek op 21 April 2015.
  5. Keith, Barry. Film Genres: From Iconography to Ideology. Wallflower Press: 2007. (bl. 1)
  6. Resensie van Chungking Express: Ebert, Roger (15 Maart 1996). "Chungking Express". Chicago Sun Times (in Engels). Geargiveer vanaf die oorspronklike op 20 Maart 2013. Besoek op 19 Julie 2010.

© MMXXIII Rich X Search. We shall prevail. All rights reserved. Rich X Search