Lipowane

Lipowane (Russiese Ougelowiges) in 2004 tydens 'n seremonie voor hulle kerk op die Roemeense dorp Slava Cercheză.

Die Lipowane of Lipowaners (Russies: Липовáне, Lipowane; Roemeens: Lipoveni; Oekraïens: Липовани, Lipowani; Bulgaars: Липованци, Lipowantsi) is etniese Russiese Ougelowiges wat in Roemenië, Oekraïne, Moldowa en Bulgarye woon nadat hulle Rusland in die 17de en 18de eeu verlaat en hulle in die Prinsdom Moldawië, in Walachye en ander streke gevestig het. Volgens die Roemeense sensus van 2011 was daar toe 23 487 Lipowane in die land.[1]

Die oorsprong van hulle naam is onseker. Dit kom dalk van die lindeboom (Russies: Липа, lipa), wat groei in die omgewing waar hulle hulle gevestig het. Die linguis Victor Vascenco en vennote beskou dit egter as volksetimologie.[2] Nog 'n hipotese is dat dit kom van die naam "Filipp" (1672-1742), wat volgens legende 'n groep andersdenkendes na Roemenië gelei het. Sy volgelinge is Filippoftsi genoem, wat later Lipoftsi en eindelik Lipowane geword het.[2]

  1. Constantin, Marin (2014). "The ethno-cultural belongingness of Aromanians, Vlachs, Catholics, and Lipovans/Old Believers in Romania and Bulgaria (1990–2012)" (PDF). Revista Română de Sociologie. Bucharest. 25 (3–4): 255–285.
  2. 2,0 2,1 Vascenco, Victor. "Melchisedec şi lipovenii" [Melchizedek and the Lipovans]. Romanoslavica (PDF) (in Roemeens). Vol. XLII. University of Bucharest. p. 133. Geargiveer vanaf die oorspronklike (PDF) op 24 Augustus 2009.

© MMXXIII Rich X Search. We shall prevail. All rights reserved. Rich X Search