Majas

Hierdie artikel handel oor die etniese groep. Vir die historiese beskawing, sien Maja, vir hul taal, sien Majaans, en vir die taalfamilie, sien Majatale.
Majas

Hedendaagse Majas in Yucatán, Meksiko, 2007
Totale bevolking: ca. 6 miljoen (2002)
Voor-Colombiaans: 5–10 miljoen[1][2]
Belangrike bevolkings  in: Dele van die huidige lande Belize, El Salvador, Guatemala, Honduras, Meksiko en die Verenigde State
Taal: Majatale (Majaans), Spaans, Engels en Kreools
Geloofsoortuiging: Christendom (Katolisisme en Protestantisme), Majageloof, Islam
Verwante etniese groepe: Indiane en Mestizo

Die Majas (Majaans: maaya'ob, Spaans: mayas) is 'n etniese groep van inheemse mense in Meso-Amerika. Hulle bewoon die suidelike Meksiko en die noordelike Sentraal-Amerika (Guatemala, Belize, El Salvador en Honduras). Die oorkoepelende term "Maja" is 'n kollektiewe benaming wat na 29 inheemse volke van die streek verwys wat 'n graad van kulturele en taalkundige erfenis deel; die term omvat egter baie verskillende bevolkingsgroepe, samelewings en etniese groepe waarvan elkeen oor sy eie tradisies, kulturele en historiese identiteit beskik.

Jong Majavroue in tradisionele klere, Antigua, Department Sacatepéquez, Guatemala
Verspreiding van Majatale in Sentraal-Amerika

Volgens ramings aan die begin van die 21ste eeu bly sowat ses miljoen Majas in die streek.[1][2] Guatemala, Suid-Meksiko met die Yucatán-skiereiland, Belize, El Salvador en Wes-Honduras het daarin geslaag om talle oorblyfsels van hul antieke kulturele erfenis in stand te hou. Sommige is redelik in die meerderheid van hispaniseerde mestizo-kulture van hul tuislande geïntegreerd, terwyl ander voortgaan met 'n meer tradisionele, kultureel onderskeie lewe en dikwels een van die Majatale as 'n moedertaal praat. Hedendaags is die meeste Majas tweetalig met Spaans as tweede taal.

Die grootste bevolkings van hedendaagse Majas bly in Guatemala, Belize, en die westelike dele van Honduras eb El Salvador, asook in die Meksikaanse deelstate Yucatán, Campeche, Quintana Roo, Tabasco en Chiapas. In die Verenigde State en die noorde van Meksiko bestaan relatief groot emigrantegemeenskappe.

  1. 1,0 1,1 (es) Lorenzo Ochoa; Patricia Martel(dir.) (2002). Lengua y cultura mayas. UNAM. p. 170. ISBN 9703200893.
  2. 2,0 2,1 (en) Nations, James D. (1 Januarie 2010). The Maya Tropical Forest: People, Parks, and Ancient Cities. University of Texas Press. ISBN 978-0-292-77877-1.

© MMXXIII Rich X Search. We shall prevail. All rights reserved. Rich X Search