Mikro-ekonomie

Mikro-ekonomie (uit die Griekse voorvoegsel mikros wat “klein” beteken) is 'n tak van ekonomie wat die gedrag van individue en firmas bestudeer ten opsigte van besluite wat geneem word oor die toedeling van beperkte of skaars hulpbronne.[1][2]Dit is tipies van toepassing op markte waar goedere of dienste gekoop en verkoop word. Mikro-ekonomie bestudeer hoe hierdie besluite en gedrag die vraag en aanbod van goedere en dienste beïnvloed, wat pryse bepaal, en hoe pryse, op hulle beurt, weer die vraag en aanbod van goedere en dienste bepaal.[3][4]

Dit is in teenstelling met makro-ekonomie wat die “somtotaal van ekonomiese aktiwiteit behels en kwessies soos groei, inflasie en werkloosheid insluit.”[3] Mikro-ekonomie gaan ook oor die uitwerking van nasionale ekonomiese beleide (soos veranderende vlakke van belasting) op die bogenoemde aspekte van die ekonomie.[4] Veral ná die Lucas-kritiek, is groot dele van moderne makro-ekonomieteorie op "mikrobeginsels" geskoei, dit wil sê, dit is gebaseer op basiese aannames oor mikrovlakgedrag.

Een doelstelling van mikro-ekonomie is om die markmeganismes wat die relatiewe pryse van goedere en dienste bepaal, te ontleed en om beperkte (skaars) hulpbronne aan alternatiewe gebruike toe te ken. Mikro-ekonomie ontleed ook markmislukkings, waar die mark nie daarin slaag om doeltreffende resultate te lewer nie, en beskryf die teoretiese toestande wat vir volmaakte mededinging vereis word. Belangrike studievelde in mikro-ekonomie sluit die volgende in: algemene markewewig, markte onder asimmetriese inligting, keuse te midde van onsekerheid en ekonomiese toepassings van spelteorie. Die elastisiteit van produkte binne die markstelsel word ook in ag geneem.

  1. Marchant, Mary A.; Snell, William M. "Macroeconomic and International Policy Terms" (PDF). University of Kentucky. Retrieved 2007-05-04.
  2. "Economics Glossary". Monroe County Women's Disability Network. Retrieved 2008-02-22.
  3. 3,0 3,1 "Social Studies Standards Glossary". New Mexico Public Education Department. Archived from the original on 2007-08-08. Retrieved 2008-02-22.
  4. 4,0 4,1 "Social Studies Standards Glossary".

© MMXXIII Rich X Search. We shall prevail. All rights reserved. Rich X Search