Neste

Neste is strukture wat gewoonlik deur diere gebou word en waarin hulle hul eiers lê en/of hul kleintjies grootmaak. Dit word ook gebruik om in te slaap. Soms dien neste ook 'n ander doel. Hoewel neste meestal met voëls in verband gebring word, is daar 'n groot verskeidenheid ander diere wat ook neste bou. Veral insekte soos bye en termiete is bedrewe nesbouers. Die bou van neste is 'n verskynsel wat in die hele diereryk aangetref word.

Die nes dien meestal as ʼn skuiling waar eiers gelê en/of kleintjies grootgemaak kan word, en dit is gewoonlik die wyfie wat die bou en uitvoering van die nes behartig. By sommige spesies word hierdie taak deur sowel die mannetjie as die wyfie behartig, en by nog ander deur slegs die mannetjie. Die vorm en gehalte van neste asook die materiale wat daarvoor gebruik word, wissel aansienlik. Oor die algemeen word baie aandag aan 'n nes bestee indien die kleintjies nesgebonde is, dit wil sê as hulle lank in die nes bly voordat hulle dit vir goed verlaat. Diere waarvan die kleintjies vroeg selfstandig is, bou gewoonlik eenvoudige neste. Elke dierspesie bou gewoonlik 'n nes met 'n bepaalde vorm.

Materiale wat algemeen gebruik word, is dele van plante (saadpluisies, takkies en grashalms) en klei, wat dikwels met speeksel gemeng word. Alleenlewende insekte grawe meestal gate in die grond en voer dit soms met ander materiale uit. Die meeste diere begin in die broeityd instinktief nes bou en weet ook instinktief hoe dit gedoen word. Onder die soogdiere is daar egter gevalle waar die jong diere by die ouer diere moet leer hoe om neste te bou.

Voorbeelde van sulke diere is bewers, sjimpansees en gorillas. Die meeste nesbouende diere soek beskutte en moeilik bereikbare plekke om hul neste te bou sodat die veiligheid van die kleintjies verseker kan word. Baie voëls soek byvoorbeeld steil kranse, hoë bome of digte struike vir die doel uit, terwyl sommige watervoëls drywende neste bou.


© MMXXIII Rich X Search. We shall prevail. All rights reserved. Rich X Search